Serena terug na 12 maande op kantlyn
2011-06-07 14:50
Londen - Serena Williams sal aan 'n opwarmingstoernooi vir Wimbledon deelneem nadat beserings haar vir byna 'n jaar van die tennisbaan weggehou het.
Volgens 'n verklaring wat Dinsdag deur haar bestuurder in Amerika uitgereik is, sal Williams aan die Eastbourne-toernooi in Engeland deelneem. Die toernooi word tradisioneel as opwarming vir Wimbledon, wat op 20 Junie begin, gebruik
Die 29-jarige Williams het kort nadat sy Wimbledon in Julie verlede jaar gewen het, haar regtervoet beseer toe sy op gebreekte glas getrap het.
In Maart vanjaar moes sy 'n noodoperasie ondergaan om 'n bloedklont uit haar long te verwyder.
Williams spog met 16 Grand Slam-titels en is 'n viermalige Wimbledon-kampioen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24