Serena se trane rol ná oorwinning
2011-06-22 08:42
Londen. – ’n Hoogs emosionele Serena Williams het Dinsdag ’n seëvierende terugkeer tot die grasbane van Wimbledon gemaak.
Dít was slegs die derde tenniswedstryd in 11 maande vir die 29-jarige Amerikaner. Williams het Aravane Rezai van Frankryk met 6-3, 3-6, 6-1 geklop om haar plek in die tweede ronde te bespreek.
Williams het verlede jaar by Wimbledon laas in ’n vername toernooi gespeel weens twee operasies en lewensgevaarlike bloedklonte in haar longe.
Toe die verdedigende kampioen die wedstryd beklink het, het sy in trane uitgebars.
Sy was ontroosbaar.
“Ek huil nie gewoonlik nie. Ek verstaan dit glad nie. Dit was egter so moeilik om terug te kom. Ek het nie eens daarvan gedroom om vandag hier te wees nie,” het die sewende gekeurde gesê.
“Ek wou net so graag een wedstryd weer hier wen. En omdat ek nie vanjaar dubbelspel speel nie, was dié my kans. Dit was ’n lang, moeilike en emosionele jaar. Ek is nou so opgewonde.”
Dit was nie ’n foutlose wedstryd nie en daar was oomblikke wat Williams duidelik nog verroes was.
“Ek het nie eens verwag om te speel nie, wat nog te sê van wen. So ek is baie bly,” het die viermalige kampioen bygevoeg.
Sy mag dalk die voorste speler in die wêreld wees, maar Caroline Wozniacki se gebrek aan ’n Grand Slam-titel laat haar lelik in die skadu van ’n speler soos Williams staan.
Wozniacki, wat eerste gekeur is, het minder as ’n uur nodig gehad om Spanje se Arantxa Parra Santonja met 6-2, 6-1 te klop.
Die verste wat die Deen al hier gevorder het, is ’n plek in die vierde ronde.
Novak Djokovic het sy eerste wedstryd sedert sy nederlaag – sy enigste sover in 2011 – teen Roger Federer in die halfeindstryd van die Franse Ope gewen toe hy met die Fransman Jeremy Chardy afgereken het. Die Serwiër het net meer as ’n uur nodig gehad om met 6-4, 6-1, 6-1 te seëvier.
Voor sy nederlaag teen Federer in Parys vroeër dié maand het Djokovic 41 agtereenvolgende wedstryde gewen.
Federer het sy plek in die volgende ronde bespreek deur Kazakstan se Mikhail Kukushkin met 7-6, 6-4, 6-2 af te ransel.
Federer het net ’n uur en 40 minute nodig gehad om die 61ste beste speler op die wêreldranglys te klop.
Die Switser is ’n sesmalige kampioen, maar as hy Pete Sampras se rekord van sewe Wimbledon-titels wil ewenaar, sal hy sy spel-peil moet lig.
Suid-Afrika se Rik de Voest het sy eersteronde-wedstryd maklik teen Ruben Ramirez Hidalgo van Spanje gewen.
De Voest, wat in 2008 ook die tweede ronde hier gehaal het, was met 6-2, 6-3, 6-2 baas.
Andy Roddick het sy 11de agtereenvolgende Wimbledon-veldtog met ’n sege oor Duitsland se Andreas Beck begin. Die 28-jarige Amerikaner het met 6-4, 7-6, 6-3 gewen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24
- Sapa - AFP