Semenya wil sportakademie begin
2010-04-22 14:50
Pretoria - Caster Semenya, Suid-Afrika se vrouewêreldkampioen in die 800 m, sal by atletiek betrokke bly ongeag wat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) besluit oor haar toekoms.
Die Caster Semenya Sports Academy (CSSA), waarvan sy die voorsitter is, is Woensdag aan die media bekend gestel.
“Daar is soveel jong talentvolle atlete in Suid-Afrika wat nooit tot hul reg sal kom nie omdat hulle nooit ’n regverdige kans gaan kry nie,” het Semenya gesê.
“Ek weet waarvan ek praat, want daar waar ek in Limpopo grootgeword het, was daar nooit ’n ordentlike atletiekbaan waarop ek kon oefen nie.
“Die CSSA se hoofdoelwit sal wees om jong atlete landwyd te identifiseer en seker te maak hulle kry ’n regverdige kans om hul drome te bewaarheid.”
Michael Seme, afrigter, en Tshepo Seema is die CSSA se ander twee direkteure.
Buiten gereelde oefenkampe en die afrig van jong atlete word daar ook beplan om met ’n webwerf weekliks atlete en afrigters van nuttige inligting te voorsien. Die langtermyndoelwit is om later ook by ander sportsoorte betrokke te raak.
Wat haar toekoms as internasionale atleet betref, was Semenya nie bereid om veel te sê nie.
“Ek wil dit duidelik maak dat atletiek nooit my lewe sal oorheers nie. Eintlik is atletiek maar atletiek. Jy hardloop en jy wen of jy verloor. Daar is baie mense wat glad nie omgee of ek deelneem of nie deelneem nie.
“Atletiek was nooit my eerste keuse van sport nie. Op skool het ek sokker gespeel en ek was regtig goed.
“Maar daar is ander dinge wat vir my op die oomblik ook saak maak, soos my studies en die akademie wat ons gestig het.
“Die IAAF kan maar besluit wat hy wil besluit. Wat my betref berus die finale besluit oor my atletiekloopbaan by my.
Heel teen die einde het Semenya ’n joernalis se laaste vraag oor haar atletiektoekoms soos volg beantwoord: “Ek het nog nooit opgegee in enigiets wat ek aanpak nie en ek sal ook nie nou nie.”
Seme het gesê dit dien geen doel dat mense aanhoudend gis oor wat met Semenya gaan gebeur nie.
“Dit is ’n saak tussen die IAAF, Caster en haar regsverteenwoordigers. Ek berus my by wat hulle ook al mag besluit.”
- Sport24