Semenya steeds in die kollig
2010-09-09 08:03
Pretoria – Dit is ’n ope vraag watter Caster Semenya vanmiddag in Milaan, Italië, aan die 800m gaan deelneem: dié een wat die wêreldkampioen is of dié een wat verlede week negende geëindig het.
Semenya het verlede week op ’n byeenkoms in Rovererto, Italië, die organiseerder erg omgekrap toe sy die 800 in 2:07.16 afgelê het.
Semenya se vertoning is as onverklaarbaar bestempel. Jukka Harkonen, haar agent, het agterna gesê Semenya het las van ’n verkoue gehad.
Semenya se stadige tyd was eintlik niks nuuts nie, want sy het op 6 Maart 2009 die 800m in 2:00.58 afgenael.
Byna almal het voorspel dat sy in haar volgende wedloop ’n tyd vinniger as 2 minute sou hardloop.Dit het nie gebeur nie.
In haar volgende drie wedlope was haar onderskeie tye 2:03.16, 2:05.22 en 2:02.04.
Sy het aan die einde van Mei ’n tyd van 2:06.97 gehardloop en eers op 31 Julie in Mauritius die wedloop in minder as twee minute afgelê toe sy in 1:56.72 gewen het.
Dit lyk soms of Semenya glad nie lus is om te hardloop nie, soos haar tyd van 4:28.13 in die 1 500 verlede jaar.
Sommige kenners meen dat Semenya doelbewus nie in haar laaste twee wedlope voluit gehardloop het nie omdat sy nie die hele tyd in internasionale atletiek se kollig wil wees nie.
Dit is Semenya se laaste wedloop voor aanstaande maand se Statebondspele in Indië en dalk lewer sy vir oulaas ’n grootse poging.
Haar vernaamste teenstanders is Ewelina Setowska (Pole), Elisa Cusma (Italië), Andrianova Tatyana (Rusland) en Zahra Bouras (Algerië).
Bogenoemde teenstanders het almal al tye vinniger as twee minute gehardloop.
Oscar Pistorius neem aan die 400 deel.
Hy was eergister op kleiner byeenkoms in Italië vierde in ’n tyd van 46.70s.
Sy afrigter, Ampie Louw, verwag nie vuurwerk van Pistorius nie.
“Oscar is moeg. Hy is al drie en halwe maande in Europa. Ek het vir hom gesê hy moet net die wedloop geniet, want dit is sy laaste dié seisoen.”
– Sport24
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg