Semenya se afrigter kap terug
2010-08-24 14:44
Londen – Caster Semenya se afrigter het gesê hy is ongeërg oor negatiewe uitlatings wat deur sommige atlete in Berlyn oor sy atleet gemaak is, nadat Semenya die 800 meter verlede Sondag by 'n byeenkoms in Berlyn gewen het.
Volgens die Telegraph se Simon Hart, het Semenya se oorwinning ‘n yskoue reaksie van sommige van die ander vroue-atlete ontvang.
Brittanje se Jemma Simpson het gesê die menseregte van ander atlete word geïgnoreer terwyl Diane Cummins van Kanada gesê het dat hulle “letterlik teen ‘n man gehardloop het”.
Semenya het die 800 m-item by die Istaf-byeenkoms in Berlyn gemaklik in ‘n tyd van 1:59.90 afgelê en sodoende haar beste tyd vir die seisoen met 2.51 sekondes verbeter.
Maar Michael Seme, wat Semenya ook afgerig het toe sy verlede jaar haar wêreldtitel gewen het, het gesê: "Hulle kan sê net wat hulle wil. Solank die organiseerders van die byeenkomste ons uitnooi, sal ons kom."
“Mense is mense en hulle sal altyd iets te sê hê, maar sterkte aan hulle. Ons het geen probleem nie. As hierdie atlete nie wil deelneem nie, is dit hulle saak,” het hy gesê.
Na ‘n vraag of Semenya deur die aanmerkings geaffekteer word, het hy geantwoord: “Nee, nee, nee. Ons dink nie eers meer aan die verlede nie. Ons kyk nou net vorentoe.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24