Semenya se Statebond-deelname onseker
2010-09-28 10:33
Johannesburg – Suid-Afrika se 800 m-wêreldkampioen en groot hoop op ’n goue medalje op die Statebondspele, Caster Semenya, se deelname in Indië is in onsekerheid gedompel.
Semenya se afrigter, Michael Seme, het Maandag erken dat hulle wag op mediese advies oor ’n knaende rugbesering voordat hulle besluit of Semenya in Nieu-Delhi in aksie gaan wees.
Die Statebondspele begin Sondag en duur tot 14 Oktober.
Die 19-jarige Semenya is een van net 11 atlete wat Suid-Afrika in die atletieknommers moet verteenwoordig.
“Haar rug pla haar in oefeninge, maar ons weet nie hoe ernstig dit is nie,” het Seme gister gesê.
“Sy sal vandag of môre ’n dokter spreek en afhangend van wat hy sê, sal ons besluit of sy gaan deelneem of nie.”
Semenya is sedert haar terugkeer ná ’n afwesigheid van 11 maande effens wisselvallig in haar vertonings.
Daar was egter oomblikke van briljantheid en sy spog met die gesamentlike vyfde vinnigste tyd in die wêreld vanjaar.
Net twee atlete van Statebondlande – Kenia se Janeth Jepkosgei en Nancy Langat – is voor haar op die ranglys. Nie een van dié twee gaan egter op die Spele in aksie wees nie.
Indien Semenya wel deelneem, sal haar strafste teenstand van Jamaika se Kenia Sinclair kom. Sinclair het vier jaar gelede die silwermedalje op die Statebondspele verower en haar vinnigste tyd vanjaar, 1 minuut 58.16 sekondes, is presies dieselfde as Semenya se haastigste tyd in 2010.
- Suid-Afrika se ander 800 m-wêreldkampioen, Mbulaeni Mulaudzi, het hom reeds weens ’n besering aan die Statebondspele onttrek. Mulaudzi het ook las van ’n seer rug.
Daar is verder ook nog onduidelikheid oor die beskikbaarheid van die verspringer Khotso Mokoena wat met ’n beenbesering sukkel.
Mokoena, ’n Olimpiese silwermedaljewenner, is Suid-Afrika se groot medaljehoop in die veldnommers.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24