Semenya sál deelneem
2009-08-19 14:23
Johannesburg – Atletiek Suid Afirka (ASA) het Woensdag gerugte dat Caster Semenya dalk nie vanaand in die 800 meter finaal by die Wêreld Atletiekkampioenskappe in Berlyn sal kan deelneem nie, verwerp.
Volgens ‘n Australiese webblad het die atletiekowerhede “mediese- en geslagstoetse op Caster Semenya uitgevoer om die geldigheid van haar geslag te bepaal.”
‘n Vergadering deur amptenare sal besluit of sy in die finaal sal deelneem. Semanya is 'n gunsteling om die goue medalje te wen.
‘n Lid van die ASA het gesê dat hulle nie seker is watse toetse op die 18-jarige gedoen is nie. Die resultate sal egter eers oor ‘n paar weke beskikbaar wees.
“Daar is geen reëls wat haar kan verhoed om te hardloop nie,” het hy bygevoeg.
“Dit is alles nonsens, en sy sál hardloop. Die saak sal in elk geval eers oor ‘n paar weke, selfs maande, van nou afgehandel kan word.”
Vandat die 18-jarige vroeër die seisoen almal met haar vaart verbaas het, is haar geslag in twyfel getrek.
Haar buitengewone gespierde liggaam, hare op haar gesig en ‘n diep stem is redes vir die agterdog.
ASA het egter volgehou dat daar geen rede is om te vermoed dat Semenya nie een honderd persent vrou is nie.
Sy is, volgens ASA, beslis nie met beide manlike en vroulike chromosome gebore nie.