Semenya mislei oor toetse?
2009-09-17 11:12
Johannesburg- Die hoof van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Leonard Chuene, ondersoek nou bewerings dat Caster Semenya mislei is toe sy gevra is om geslagstoetse in Suid-Afrika te ondergaan, het The Star Donderdag berig.
“Om tot die basis van hierdie aantygings te kom sal ek vinnig al die mense kontak wat hierdie bewerings maak, sodat hulle my kan inlig daaroor,” het Chuene gesê.
“Ons sal presies uitvind wie het watse toetse, wanneer en hoe gedoen.”
Tot op hede het Chuene ontken dat die geslagstoetse wat ASA op Semenya laat doen het, sonder haar kennis oor die aard daarvan plaasgevind het.
Intussen word daar verwag dat ASA voor die Nasionale Vergadering se sportkomitee sal verskyn om sy rol in die Semenya-sage te verduidelik.
Die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) het daarop aangedring dat Semenya geslagstoetse ondergaan nadat sy die 800m gewen het by die Wêreldkampioenskappe in Berlyn verlede maand.
Sedertdien vlieg die beskuldigings heen en weer dat ASA, Semenya sonder haar kennis vir geslagstoetse gestuur het voor sy na die byeenkoms in Berlyn vertrek het.
Die span se dokter, Harold Adams, het glo aan ASA gesê om Semenya nie na die Wêreldkampioenskappe te stuur nie. Hy kan sedert die bohaai begin het nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Semenya se afrigter, Wilfred Daniels, het sedertdien bedank en meen ASA het dié jong atleet nie in kennis gestel van die aard van die toetse nie.
– Sapa