Semenya kry nuwe huis
2009-08-29 14:21
Johannesburg – Die Limpopo regering en ‘n eiendomsontwikkelaar gaan vir Caster Semenya en haar familie ‘n nuwe huis gee in erkenning van haar prestasie, het die provinsie se departement van behuising Saterdag gesê.
“Die Limpopo LUR vir die plaaslike regering en behuising, Ntate Soviet, Lekganvane is bly om aan te kondig dat sy departement, in samewerking met Bitline eiendomsontwikkelaars, ‘n nuwe huis vir die familie van die 800m wêreldkampioen Mokgadi Caster Semenya gaan bou,” het ‘n verklaring gesê.
“Die mense van Limpopo is baie trots op Caster Semenya.”
“Ons wens haar geluk en ons plig as ‘n departement is om seker te maak dat sy en haar familie behoorlike behuising kry.”
Woordvoerder Clayson Monyela het gesê dat die kostes van die bou van die huis heeltemal deur Bitline gedek sal word en dat die provinsiale regering borge sal kry vir die afrondings en projekbestuurders,
Monyela het gesê hulle het die familie gaan besoek en het gevoel dat hulle ‘n ander huis nodig het.
Die huis sal in Masehlong gebou word.
Monvela het bygevoeg dat hy ook ‘n besoek aan die ander goud-wenner, Mbulaeni Mulaudzi, afgelê het en hy het gevoel dat hulle huis geskik is.
- Sapa