Semenya kry R60K om te "ontspan"
2009-08-25 11:59
Johannesburg – Die omstrede Julius Malema, ANC-jeugligaleier, sê dié liga gaan die 800m-ster-atleet en gouemedalje-wenner Caster Semenya R60 000 gee om te “ontspan”.
Semenya is die afgelope paar weke in omstredenheid gehul oor haar geslag.
Sy het die 800m by die Wêreldkampioenskappe in Berlyn in 1:55.45 kafgedraf. Dit is die vinnigste tyd in die wêreld vanjaar.
Mbulaeni Mulaudzi, wat ’n goue medalje in die 800m vir mans verower het, het R40 000 by die ANCYL gekry.
Die verspringatleet Khotso Mokoena, wat ’n silwermedalje verower het, sal R25 000 kry.
Die ANCYL het in ’n verklaring gesê hulle gaan ’n veldtog begin sodat die internasionale atletiekbeheerliggaam (IAAF) en “diegene wat Semenya wil verneder” die vroueatleet onvoorwaardelik om verskoning vra.
Winnie Madikizela-Mandela, ANC-LP, het tydens ’n mediakonferensie ná die atlete se aankoms by die O.R. Tambo-lughawe gesê niemand sal toegelaat word om geslagstoetse op Semenya te doen nie.
“Hulle kan hul beledigings hou. Sy is ons meisie en niemand sal geslagstoetse op haar doen nie.”
Die IAAF het verlede week aangekondig dat Semenya ’n reeks geslagstoetse moet ondergaan maar het hierdie week om verskoning gevra vir die manier waarop die kwessie gehanteer is.
– Sapa