Semenya in Stellenbosch-drama
2010-04-01 09:01
Wilhelm de Swardt
Stellenbosch - Caster Semenya, vroue-wêreldkampioen in die 800 m, het Woensdag groot konsternasie veroorsaak toe sy ’n paar uur voor die Geelbladsye-atletiekbyeenkoms hier aangekondig het dat sy weer gaan begin hardloop.
Haar aankondiging volg kort op dié van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) dat sy nie mag deelneem nie voordat hy sy ondersoek na haar geslag voltooi het.
Semenya het Woensdag saam met haar afrigter Michael Seme, en regsverteenwoordiger, Greg Nott, by die Coetzenburg-stadion opgedaag in die hoop dat sy toegelaat sou word om deel te neem.
Daar is ’n dringende vergadering met Richard Stander, waarnemende kantoorhoof van Atletiek Suid-Afrika (ASA), belê.
Stander het dit aan hulle duidelik gemaak dat daar volgens die reëls van die IAAF geen manier is waarop Semenya kan deelneem nie.
“Ek het aan Semenya se regsverteenwoordiger uitgewys dat die Geelbladsye-byeenkoms ’n amptelike IAAF-byeenkoms is waar atlete vir speles en wêreldbyeenkomste kan kwalifiseer. Dit beteken dat slegs gelisensieerde atlete kan deelneem. Wanneer ’n atleet ’n lisensie uitneem, is hy of sy onderhewig aan die IAAF se reëls.
“Die reëls maak dit duidelik dat as die IAAF ’n atleet ondersoek, hy of sy nie kan deelneem nie. Ek het probeer om (hulle) gerus te stel deur te sê dat sy outomaties as wêreldkampioen kwalifiseer om Suid-Afrika by die Statebondspele en wêreldbyeenkomste te verteenwoordig.
“Hulle was nie gelukkig nie, maar het dit vir nou aanvaar. Ek het voorgestel dat Semenya se buitelandse agent daarom nou reeds begin om te kyk of hy nie vir haar uitnodigings na internasionale byeenkomste kan reël nie.”
Nott was teen druktyd nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Semenya het in ’n amptelike verklaring gesê sy was lank genoeg geduldig. “Sedert ek die wêreldtitel in Berlyn gewen het, is ek aan allerlei toetse onderwerp en is baie intieme besonderhede oor my dié wêreld ingestuur.
“Ek glo my regte as atleet en mens asook my menswaardigheid is deur sommige van die bewering aangetas.”
Semenya voer ook aan dat sy nog nooit amptelik as atleet deur die IAAF geskors is nie en die feit dat sy nie kan deelneem nie beteken dat sy inkomste verloor.
“Ek en regsverteenwoordigers is steeds bereid om ten nouste met die IAAF saam te werk, maar ek wil begin deelneem.”
- Sport24