Semenya het glo nie ‘n baarmoeder nie
2009-09-10 21:02
Kaapstad- Die wêreld 800m-kampioen, Caster Semenya, het volgens berigte in die Daily Telegraph nie ‘n baarmoeder of eierstokke nie.
Dié koerant in Australië het ‘n anonieme bron aangehaal wat die inligting rondom Semenya se geslagstoetse bekendgemaak het. Volgens die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) moet die resultate van die toetse eers in November bekendgemaak word.
Semenya gaan glo aangeraai word om so spoedig moontlik ’n operasie te ondergaan omdat haar toestand baie ernstige gesondheidsgevare inhou.
Luidens die berig het die toetse ook aan die lig gebring dat Semenya interne testikels het wat testosteroon vervaardig. Sy het glo drie keer meer testosteroon as ander vroue-atlete.
Nuus24 het vroeër berig dat die IAAF dringend met Semenya wil praat oor die uitslag van haar toetse. Die IAAF het Woensdag bevestig dat hulle die uitslae van die geslagstoetse op Semenya ontvang het.
Die Telegraph sê ’n goed ingeligte bron na aan die IAAF se ondersoek sê daar is bewyse dat Semenya hermafrodities (tweeslagtig) is.
Semenya gaan die media Saterdag op ’n konferensie aangebied deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) by die Universiteit van Pretoria se High Performance Centre toespreek.
ASA reageer
Die president van ASA, Leonard Chuene, is briesend oor die gerugte dat Semenya nie ‘n baarmoeder of eierstokke het nie.
Dit kom nadat die Daily Telegraph in Australië glo die resultate van die toetse uitgelek het.
“Hierdie is ‘n boosaardige agenda wat daarop gemik is om ‘n klein meisie te vernietig,” het Chuene aan eNews gesê.
Hy het bygevoeg dat hy nie nou in ‘n debat wil betrokke raak oor die resultate nie. Chuene het ook die media beskuldig vir die chaos wat nou rondom Semenya losgebars het.
IAAF stil
Die IAAF wou nie kommentaar op die koerant se bewerings oor Semenya se geslagsorgane lewer nie, het Sapa laat Donderdagnag berig.
’n Woordvoerder vir die atletiekliggaam, Nick Davies, het bevestig dat die IAAF Semenya se toetsuitslae ontvang het. Hy het egter gesê dat hy nie die uitslae kan bespreek nie aangesien die bevindinge eers deur kenners ondersoek moet word.
Die proses kan etlike weke neem, het Davies gesê.
–Sport24