Semenya draf nog altyd opwaarts
2009-08-21 13:25
Pretoria - Suid-Afrika se nuwe 800m-ster, Caster Semenya wat tans in ‘n herrie oor haar geslag gewikkel is, weier nog altyd om deel van die norm te wees en te voldoen aan verwagtinge wat die samelewing stel, het Gender Links Vrydag gesê.
"Ons moet Semenya se terugkeer vier. Nie net omdat sy ‘n goue medalje huis toe bring nie, maar ook omdat sy geweier het om haar te bind tot die norm en verwagtinge van die samelewing,” het Colleen Lowe Morna, uitvoerende direkteur van die NRO Gender Links gesê.
Die 18-jarige het die 800m in 1:55.45 kafgedraf. Dit is die vinnigste tyd in die wêreld vanjaar.
Die Internasionale Atletiekbeheerliggaam (IAAF) het ongeag Semenya se prestasie op ‘n geslagstoets aangedring.
Wanneer jong dogtertjies aanbeveel was om eerder nie sokker as 'n sport te beoefen nie, het Semenya besluit sy sál die sport speel, het Lowe Morna gesê.
Toe sy destyds gespot en verneder was nadat sy gevra is om haar broek af te trek voordat sy die damesgeriewe mag gebruik, het sy al haar energie in hardloop ingeploeg, het Lowe Morna vertel.
“Geslagstoetse is net verkeerd,” het sy bygevoeg.
"Wat sal die resultate nou eintlik beteken? Om te bepaal of ‘n persoon die gedrag, die voorkoms of die denke van ‘n man of ‘n vrou het?"
"Sy word bevraagteken op grond van ons mening oor hoe ‘n vrou moet lyk en optree, nie oor biologiese feite nie," meen Lowe Morna.
- Sapa