Schwartzel lek lippe af vir Meesters
2012-03-13 08:20
Bloemfontein – Charl Schwartzel se voorbereiding om sy groen baadjie oor minder as ’n maand op Augusta te verdedig, kan kwalik beter verloop.
Dié Suid-Afrikaanse gholfspeler het Sondag in Doral, Florida, sy bankrekening ’n stewige hupstoot van $362 500 (sowat R2,75 miljoen) met sy gesamentlike vierde plek in die Cadillac-toernooi gegee.
Hy bevind hom ná sy rondtes van 68, 69, 70 en 68 in die sesde plek op die jongste wêreldranglys nadat hy verlede week nog in die negende posisie was. Dit is sy beste posisie tot nog toe.
Sy toernooi-telling van 275 – 13 houe minder as die baansyfer – was 3 meer as die wenner, Justin Rose van Engeland.
Garth Mulroy van Suid-Afrika het op 5 minder as baansyfer in die gesamentlike 29ste plek klaargemaak, terwyl Branden Grace (35ste), Retief Goosen (45ste), Hennie Otto (50ste) en Jbé Kruger (60ste) sy landgenote was wat nie te veel hond haar-af gemaak het nie.
Schwartzel het ná sy laaste rondte erken hy is opgewonde om na Augusta terug te keer om sy Meesterstitel van 5 tot 8 April te verdedig.
“As ’n mens die toestande in ag neem (waarin die toernooi gespeel is), was dit ’n goeie rondte (68 houe op die laaste dag),” het Schwartzel aan die amptelike webtuiste van die Cadillac-toernooi gesê.
“Ja, ek sien uit na die Meesters. Dit gaan lekker wees om terug te keer soontoe.”
Die 27-jarige Schwartzel speel van Donderdag af in Palm Harbor, Florida, in die Transitions-toernooi waarna hy ’n ruskans sal neem.
Rose het met sy sege in die Cadillac-toernooi sy posisie met 15 plekke op die ranglys verbeter en is nou in die 7de plek.
Schwartzel beklee die beste posisie van die Suid-Afrikaners op die wêreldranglys.
Nege ander Suid-Afrikaners, Louis Oosthuizen (36ste), Goosen (52), Ernie Els (68), George Coetzee (69), Rory Sabbatini (77), Jaco van Zyl (81), Thomas Aiken (82), Grace (86) en Kruger (109) tel ook tussen die voorste 120 spelers ter wêreld.
Die Noord-Ier Rory McIlroy is steeds die beste ter wêreld, gevolg deur Luke Donald (2), Lee Westwood (3), Martin Kaymer (4), Steve Stricker (5), Schwartzel (6), Justin Rose (7), Webb Simpson (8), Jason Day (9) en Hunter Mahan (10).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24