Schleck vra vir B-toets
2012-07-18 12:00
Pau – Die Luxemburg-jaer Frank Schleck ontken dat hy verbode middels gebruik het nadat hy Dinsdag uit die Tour de France onttrek is vir die positiewe toets van 'n verbode ontwateringsmiddel.
"Ek ontken ten sterkste dat ek enige verbode middel gebruik het. En het geen verduideliking vir die positiewe uitslag nie, daarom dring ek aan dat die B-monster ook getoets word," het Schleck Woensdag in 'n verklaring, wat na die media in Luxemburg gestuur is, gesê.
"As die B-monster die uitslag van my aanvanklike toets bevestig is my verdediging dat ek die slagoffer van vergiftiging was," het Schleck, wat in die algehele 12de plek van die Tour was, bygevoeg.
Die jaer is onmiddelik deur sy RadioShack-span uit die Tour onttrek nadat die positiewe toets Dinsdagaand aangekondig is.
Hy is nie geskors nie omdat die ontwateringsmiddel (Xipamide) as 'n "gespesifiseerde middel" deur die wêreldliggaam teen verbode middels, Wada, gelys is.
Dit beteken dat iemand steeds die gevaar kan loop om vir twee jaar geskors te word, maar as hy kan bewys dat hy nie die middel geneem het om beter vertonings te lewer nie, kan dit as versagting dien.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Reuters