Saskok ondersteun Pistorius
2012-09-03 19:09
Londen – Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se verskoning is deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) verwelkom, en die beheerliggaam is bereid om sy griewe met die Internasionale Paralimpiese komitee (IPK) op te neem indien dit versoek word.
Tubby Reddy, uitvoerende hoof van Saskok, het Maandag in Londen gepraat na Pistorius se uitlatings oor die lengte van Alan Oliveira se lemme nadat die Brasiliaan hom Sondag in die 200 m-finaal by die Paralimpiese Spele geklop het.
"Oscar het vanoggend om verskoning gevra en ons het 'n verklaring ter ondersteuning van ons atleet uitgereik.
Reddy het gesê die Nasionale Paralimpiese Komitee van Suid-Afrika en Saskok sal namens Pistorius met die IPK vergader en alles in hul vermoë doen om sy griewe met hulle te deel.
Reddy het nog nie self met Pistorius gepraat nie maar sê hy was in kontak met Pieter Badenhorst, bestuurder van die Suid-Afrikaanse span by die Paralimpiese.
Pistorius het om verskoning gevra vir die tydsberekening van sy uitlatings.
Die Suid-Afrikaner het die Internasionale Paralimpiese komitee (IPK) Sondag direk na afloop van die 200-finaal in die T44-kategorie by die Paralimpiese Spele in Londen, waar hy tweede agter Oliveira geëindig het, aangevat oor die lengte van sommige atlete se lemme.
Oliveira, wie se lemme merkbaar langer is, was sowat agt meter agter Pistorius toe hy hom in die pylvak ingehaal en op die eindstreep geklop het.
"Ek wil nooit enige iets wegneem van 'n ander atleet se oomblik van glorie nie en wil om verskoning vra vir die tydsberekening van my kommentaar ná gister [Sondag] se wedloop," het Pistorius Maandag in 'n uitgereikte verklaring gesê.
"Ek glo steeds daar is 'n kwessie en verwelkom die geleentheid om met die IPK daaroor te praat, maar ek aanvaar dat dit verkeerd was om my kommer onmiddelik na afloop van die wedloop uit te spreek."
"Dit was Alan se oomblik en ek wil graag op rekord sê dat ek hom respekteer."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA