Sanchez in trane ná Tour-sege
2011-07-15 08:23
Kaapstad – Samuel Sanchez (Euskaltel-Euskadi) het sy grootste sege sedert 2008 se Olimpiese Spele in Beijing behaal toe hy Donderdag die Tour de France se eerste skof in die Pireneë-gebergtes gewen het.
Geen wonder nie die Spaanse fietsryer het gedurende ’n televisie-onderhoud gesukkel om sy trane terug te hou.
Sanchez se wentyd vir die 12de skof – van Cugnaux en Luz Ardiden (211 km), wat drie erge klimme ingesluit het – was 6 uur, 1 minuut en 15 sekondes.
Jelle Vanendert (Omega Pharma-Lotto) was tweede, 7 sekondes stadiger, en Fränk Schleck (Leopard Trek) derde, 10 sekondes stadiger.
Thomas Voeckler (Europcar) was die jaer wat op Bastille-dag die Franse fietsry-ondersteuners darem iets gegee het om oor opgewonde te raak toe hy die geeltrui (algehele voorloper) behou het. Die Fransman het homself vooraf geen kans gegee om die trui te behou nie, maar van opgee wou hy ook nie weet nie.
Teen elkeen van die drie groot klimme kon op televisie duidelik gesien word hoe hy bars om by die Tour-gunstelinge te bly. Oor die laaste 5 km teen die hange van die Luz Ardiden het dit eindelik duidelik geraak wie die ware aanspraakmakers op die Tour se geeltrui is.
Dit is Cadel Evans (BMC), Fränk en Andy Schleck (Leopard Trek), Ivan Basso (Liquigas), Alberto Contador (Saxo Bank), Tom Danielson (Garmin-Cervelo) en Damiano Cunego (Lampre).
Die Schlecks het die eerste skote in die “oorlog” afgevuur en waarskynlik die veldslag gewen. Eers het hulle en hul spanmaats sake teen die Col du Tourmalet die pas erg warm gemaak.
Toe teen die Luz Ardiden, die dag se laaste klim, was dit weer die broers wat die ander gunstelinge se bene getoets het.
Andy het sowat 5 km van die bopunt ’n aanval geloods. Die oomblik toe dit gekelder is, het Fränk versnel. Hy is ingehaal, maar sowat 2.5 km van die einde het hy weer aangeval. Dié keer het hy weggekom en Sanchez so amper gevang.
Contador kon oor die laaste 2 km toe die gunstelinge mekaar regtig die stryd aangesê het nie byhou nie.
Hy het maar agtste in die skof geëindig en is nou 2 minute en 10 sekondes agter Fränk wat algeheel tweede is.
Evans is derde.
In Vrydag se skof – van Pau na Lourdes (152.5 km) wat net een noemenswaardige klim insluit – is die kans goed dat jaers wat geen invloed op die verloop van die Tour het nie kan wegbreek en voor bly.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24