Safa, Saru en KSA sit koppe bymekaar
2012-10-25 16:03
Johannesburg – Terwyl hulle meeding om ondersteuners glo die uitvoerende hoofde van Krieket Suid-Afrika (KSA), die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), dat die land se drie top-sportkodes baie by mekaar kan leer.
Hierdie mening was algemeen aanvaar op 'n beraad in Johannesburg, waar internasionale kenners en markleiers vergader het vir die doel om Suid-Afrikaanse sport te bevorder deur die samewerking van die hoof sportkodes.
Terwyl die drie sportkodes met mekaar meeding op ‘n sekere vlak, het Robin Petersen, uitvoerende hoof van Safa, gesê dat dit van kardinale belang is vir hulle om saam te werk.
“Die drie van ons het beheer oor verskriklike belangrike nasionale instansies wat reguleer hoe die land oor homself voel,” het Petersen gesê.
“Hoe meer ons leer en hoe meer ons mekaar help om suksesvol met ons nasionale spanne te wees, gaan bepaal hoe goed ons vir die land kan wees.”
“Dit is baie belangrik dat ons hierdie samesprekings het.”
Terwyl die drie kodes verskillende uitdagings het, het hul administrateurs gevoel dit is belangrik om met mekaar betrokke te raak.
Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, sê dat alhoewel die sportsoorte met mekaar kompeteer vir ondersteuners, kompeteer hulle met verskillende markte.
“Dit is belangrik dat ons lesse leer uit daardie verskillende markte uit,” het Roux gesê.
“Dit is ook belangrik dat ons meer bymekaar uitkom en dat ons hierdie lesse met mekaar deel.”
Al is daar ‘n opvatting dat slegs krieket en rugby deur transformasie in die gesig gestaar word, het Petersen gesê dat sokker hul eie uitdagings het.
“Ons moet kyk hoe ons Indiese, wit en bruin Suid-Afrikaners by die sport betrokke kan hou en hoe ons hul getalle in die sport gaan groei,” het Petersen gesê.
Jacques Faul, KSA se waarnemende hoof, het gesê hy sal die beraad as ‘n sukses beskou as hy by Saru kan leer hoe mens internasionale toernooie wen.
“Sport is ‘n baie jong bedryf en mens kan baie leer by die beste praktyke in die wêreld,” het Faul gesê.
Paneellede by die beraad sluit in Danny Jordaan, uitvoerende hoof van die Wêreldbeker-toernooi se plaaslike reëlingskomitee, Mark Pannes, uitvoerende hoof van die Italiaanse sokkerklub AS Roma, en Gideon Sam, president van Saskok.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- SAPA