SA wil Statebondspele in 2022 aanbied
2011-06-03 08:42
Durban - Suid-Afrika se Olimpiese liggaam, Saskok, sal later vanjaar begin beplan aan ’n bod vir die Statebondspele van 2022 en wil ook bie vir die Wêreldspele van 2017.
Gideon Sam, die Saskok-president, het Donderdagmiddag gesê sy organisasie is glad nie teleurgesteld oor die regering se besluit om nie vir die Olimpiese Spele van 2020 te bie nie en is steeds van plan om op kleiner byeenkomste te konsentreer.
“Die gasheer vir die Statebondspele van 2018 word in November aangekondig en daarna sal ons begin kyk na 2022,” het Sam Donderdag in Durban gesê.
“Ons is al voorheen gevra om ons naam in die hoed te gooi vir die Statebondspele, maar het laas teruggestaan vir Nigerië, wat toe sleg verloor het teen Glasgow (in Skotland, vir die 2014-regte).
“Dié keer sal daar geen sulke hoflikheid wees nie.
“Ons kan heeltemal insien waarom die regering nee gesê het vir ’n Olimpiese Spele – dis ’n bedrag van R100 miljard wat baie beter aangewend kan word op ander gebiede – maar die Statebondspele is op ’n veel kleiner skaal en dit is veel goedkoper.
Van ons groot stede het beslis die nodige infrastruktuur daarvoor,” het Sam gesê.
Sam het ook gesê Saskok stel daarin belang om die Wêreldspele van 2017 aan te bied.
“Daarvoor sal ook ’n klomp belangstellendes in die tou staan, maar ons het reeds ’n span in Kaapstad wat daaraan werk.”
- Die eintlike rede waarom Saskok in Durban was, was om aan te kondig dat die Internasionale Olimpiese Komitee se 123ste sessie vroeg aanstaande maand hier gehou sal word en deur ’n groot groep sportsterre, staatshoofde en koninklikes (onder wie Prins Albert van Monaco, wat drie dae voor die sessie met die Suid-Afrikaner Charlene Wittstock in die huwelik tree) bygewoon sal word.
“Dis baie groot vir Durban om die gasheer hiervoor te wees, want nog nooit in die Olimpiese geskiedenis – dis 117 jaar – het die IOK ’n sessie in Afrika aangebied nie,” het Sam Ramsamy, Suid-Afrika se IOK-verteenwoordiger, gesê.
Die hoogtepunt van die IOK-sessie sal die aankondiging van die gasheer vir die Olimpiese Winterspele van 2018 wees.
Die kandidate is München (Duitsland), Annecy (Frankryk) en PyeongChang (Suid-Korea).
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24