SA se tennishoop op Davisbeker-drietal
2011-04-10 08:14
Suid-Afrika se hoop op sukses in die Soweto Ope-tennistoernooi, wat Maandag in die Arthur Ashe-kompleks begin, is gevestig op die Davisbeker-drietal van Rik de Voest, Izak van der Merwe en Raven Klaasen.
Dié drie staatmakers oor die laaste paar jare wat Davisbeker-kragmetings betref, is die enigste Suid-Afrikaners wat ’n realistiese kans het om ver te vorder in hierdie toernooi.
Tog is dit ’n ideale kans vir nog ’n paar plaaslike jongelinge soos die Kapenaars Nikala Scholtz en Ruan Roelofse, asook die Gautenger Renier Moolman om wêreldranglyspunte op tuisbodem in bekende toestande te verwerf.
Van der Merwe, nommer 148 ter wêreld, het in verlede jaar se eindstryd teen die Jamaikaan Dustin Brown verloor.
Die eksentrieke Brown, ’n Rastaman, is weer hier om sy titel te verdedig, maar deesdae speel hy as ’n Duitser, die land van sy ma se herkoms.
Met sy stewige afslane en bereidwilligheid om die net op te soek om punte te beëindig, pas dié hoogte bo seevlak Brown soos ’n handskoen.
Voorverlede jaar het De Voest (147) die eindstryd gehaal, maar hy het hom toe teen die Fransman Fabrice Santoro vasgeloop. Hy floreer egter altyd wanneer hy by die huis speel en sy wenkans – al is hy vyfde gekeur – kan nie gering geskat word nie.
Klaasen is self ’n speler teen wie die res nie graag in die eerste ronde sal wil speel nie. Hy is bestendig op die Hoëveld en het die vermoë om ’n paar van die groter name vroeër as verwag terug te stuur huis toe.
In die vroue-enkelspel is die Italianer Alberta Brianti eerste gekeur, met die ervare Thailander Tamarine Tanasugarn wat gekeur is om teen haar in die eindstryd te staan te kom.
Of enige van hulle egter Saterdag se eindstryd sal sien, is ’n ope vraag. Daar is ’n hele paar meisies van die Oosblok-lande wat hul tande slyp vir opskuddings.
Die kampioen, Nina Bratchikova van Rusland, is sewende gekeur.
Geen Suid-Afrikaner kon regstreeks vir die vroue-enkelspel kwalifiseer nie, maar die 17-jarige van Mpumalanga, Natasha Fourouclas, asook die Kempton Parker Chanel Simmonds, en Lynn Kiro en Mandri le Roux, is as promotorskeuses toegelaat.
- Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Rapport