SA se Luvo spring goud los
2010-07-23 08:43
Pretoria - Niemand kan dit meer betwyfel nie dat Suid-Afrika van die beste verspring-atlete in die wêreld het, nadat Luvo Manyonga gister op die Junior Wêreldbyeenkoms in Montcon, Kanada, die goue medalje gewen het.
Sedert 2008 het ’n Suid-Afrikaanse atleet op een na op elke Wêreldbyeenkoms (senior, junior en jeug) daarin geslaag om ’n medalje in die verspring te verower.
Boonop het Khotso Mokoena ’n silwermedalje op die Olimpiese Spele in 2008 in Beijing gewen.
Manyonga (18) is Suid-Afrika se 14de junior wêreldkampioen sedert 1993.
Wat sy prestasie merkwaardig maak, is dat hy brandarm grootgeword het.
Sy pa is werkloos en sy ma is ’n huishulp.
Manyonga se armoedige agtergrond het dalk in sy guns getel, want hy het van kleins af geleer om te veg vir alles wat hy in die lewe wil bereik.
Die Matie was tot en met die aanbreek van die vyfde ronde die voorloper met ’n sprong van 7.69 m, maar toe begin die groot stryd om die goue medalje in alle erns.
Spanje se Eusebio Caceres het met sy vyfde sprong die maatband tot 7.72 m laat rek.
Manyonga het geweier om bes te gee, al het hy las van ’n seer knie.
Hy het sy beste vir laaste gebêre en in die winderige toestande ’n goeie 7.99 m gespring.
Die Spanjaard se laaste sprong was 7.90 m. Taylor Stewart van Kanada was derde met ’n sprong van 7.63 m.
Volgens Manyonga was dit ’n onbeskryflike gevoel toe hy besef die goue medalje is syne.
“Wat my sege regtig spesiaal gemaak het, was toe ek hoor hoe die toeskouers vuvuzelas blaas.
“Ek dink dit is gepas dat my sege met blasende vuvuzelas gevier is, want dit is so ’n eg Suid-Afrikaanse klank.
“Ek moet bieg my linkerknie het my kwaai gedurende die byeenkoms opgekeil, maar daar was geen manier waarop ek met ’n silwermedalje tevrede sou wees nie.”
Manyonga het sy goue medalje aan Caster Semenya, Suid-Afrika se vroue-wêreldkampioen in die 800 m, opgedra.
Tazmin Brits het in die spiesgooi vir junior vroue ook gewys sy kan kophou wanneer dit saak maak toe sy die bronsmedalje met ’n gooi van 54.44 m gewen het.
In die opbou na die byeenkoms het sy heeltyd las van ’n besering in haar gooi-arm gehad.
“Ek is teleurgesteld, want ek neem deel om te wen en nie om tweede en derde te eindig nie,” het die voormalige wêreldkampioen van die Jeug Wêreldbyeenkoms gesê.
- Gister het die SA naellopers Waide van Niekerk en Justin Palframan tot die halfeindrondes in die 200 deurgedring. Van Niekerk se tyd was 21.10 en Palframan s’n 24.16.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24