SA-rolstoeltennisspan maak geskiedenis
2011-04-28 22:12
Pretoria - Suid-Afrika het vir die eerste maal die halfeindstryd van die Rolstoeltennis-wêreldbeker gehaal met ‘n oorwinning van 2-1 oor Kanada in Pretoria Donderdag.
Die gasheerspan, wat sesde gekeur is, het die mylpaal bereik met die dubbelspaar Evans Maripa en Sydwell Mathonsi, wat in ‘n rillerstryd 5-7, 6-3 (10-2) met Kanada se Philippe Bedard en Corey Blatchford afgereken het.
Suid-Afrika en die derde gekeurde Kanada het vóór die dubbelspelwedstryd elk ‘n enkelspelwedstryd gewen.
Mathonsi was verheug om ‘n invloedryke rol te kon speel in sy span se tog na die halfeindstryd – die eerste keer wat Suid-Afrika dié mylpaal behaal ná nege jaar van deelname.
“Dit was nie die beste van wedstryde in terme van vermaak nie, maar ons het uiteindelik die wedstryd gewen en dit was goed vir die Suid-Afrikaanse span,” het Mathonsi gesê.
“Om Kanada te kon klop, was opsigself ‘n prestasie en ons het werklik teen die geskiedenis gespeel, so Suid-Afrika kan trots wees op hierdie mylpaal.”
Die Suid-Afrikaanse span moes egter in die halfeindronde die knie buig teen die Japannese.
- Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- Sapa - AP