SA-nuweling wys grotes hoe
2010-12-10 08:23
Malelane – Die Sonskyntoer-nuweling Anthony Michael het die eerste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap Donderdag as die voorloper afgesluit, nadat hy danksy ’n vuurwarm set-yster ’n ronde van 66 (ses houe minder as baansyfer) aangeteken het.
Die 25-jarige Michael was een van die vroeë afslaners en het die perfekte oggendtoestande goed benut, om sewe voëltjies op sy telkaart in te vul.
Twee daarvan was ná monster-sethoue by die agtste en negende putjies.
“Ek het ’n sethou van sowat 50 of 60 voet (ongeveer 20 meter) gesink by die agtste putjie, en by die negende ook van omtrent 8 meter af ’n voëltjie aangeteken, so die set-yster het regtig vandag goed gewerk,” het Michael gesê. “Ek dink ek het net drie skoonvelde van die bof af bereik, maar my naderhoue en werk op die setperke was uit die boonste rakke.”
Michael het Suid-Afrika as tjokkertjie in bofbal verteenwoordig en selfs in Amerika gaan studeer, in die hoop dat hy ’n loopbaan van dié sport kon maak. Die agteruitgang van bofbal in Suid-Afrika het hom egter na gholf laat draai.
Dit dra reeds vrugte: dié gebore Johannesburger is tans tweede in die stryd om as die Sonskyntoer se Nuweling van die Jaar aangewys te word – en ’n goeie uitslag hier sal aanstaande week se Suid-Afrikaanse Ope ’n interessante afspraak maak vir hom en die voorloper, Daniel Greene.
Michael se skitterende ronde het heeldag gehou en aan hom ’n voorsprong van een hou oor die veld besorg.
Die Duitser Sebastian Buhl, Engelsman Robert Rock en Suid-Afrika se Dawie van der Walt het rondes van 67 gespeel.
’n Verdere hou terug is ’n groep van vyf, wat die Johannesburger Keith Horne insluit.
Horne het ’n skraal kans om Charl Schwartzel bo-aan die Sonskyntoer se geldlys in te haal, maar hy moet minstens in die top-3 eindig om sy kans lewend te hou.
Schwartzel het die eerste ronde vier houe agter die voorloper afgesluit, ná ’n 70 wat twee voëltjies oor die laaste drie putjies ingesluit het, en hy kan nog baie gevaarlik wees by die Leopard Creek-baan, waar hy reeds gewen het en twee keer tweede was.
Vir sy goeie vriend, die Britse Ope-kampioen Louis Oosthuizen, was Donderdag se eerste ronde egter ’n nagmerrie.
Oosthuizen het ’n 76 (+4) op sy telkaart ingevul, ná twee dubbele brouhoue, vier brouhoue en vier voëltjies.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24