SA mans vrot in Twee Oseane
2010-04-04 07:04
Sarel van der Walt
Kaapstad - Suid-Afrika se mans-ultra-atlete het gisteroggend hier skande gemaak toe net een van hulle onder die voorste tien atlete in die 40ste Twee Oseane-wedloop oor 56 km kon eindig.
Drie oefenmaats van Lesotho, Mabhutile Lebopo (34), Moeketsi Moshuli (28) en Teboho Sello (31), wat almal vir die Mr Price-klub deelneem, het die wedloop oorheers en eerste, tweede en derde oor die eindstreep gehardloop.
Meer as 8 000 atlete het deelgeneem.
In die wedloop vir vroue het die Centurionse biokinetikus Adinda Kruger (Nedbank) vergoed vir die mans se powere vertoning deur derde te eindig ná die Russiese tweeling Olesya en Elena Nurgalieva.
Lebopo se wentyd in lekker hardloopweer was ’n haastige 3:06:18.
Moshuli het meer as ’n minuut ná hom oor die eindstreep gehardloop in 3:07:29, terwyl Sello se tyd 3:07:44 was.
Lebopo se jonger broer, Warinyane, was vyfde in 3:10:51.
Die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep by die Universiteit van Kaapstad was die 27-jarige Sandile Ngunuza (Nedbank), wat tiende was in 3:15:42.
Die Zimbabwiër Stephen Muzhingi (Formula), die Comrades-kampioen, was soos verlede jaar vierde.
Olesya Nurgalieva (Mr Price, 3:41:53) se oorwinning in die vroue-afdeling was haar tweede in dié wedloop. Sy het haar suster, ’n driemalige kampioen, met 24 sekondes geklop.
Die 33-jarige Kruger (Nedbank, 3:49:23) het haar vorige beste tyd met ’n stewige 10 minute verbeter.
“Nou’s dit Comrades toe. Dís eintlik my mikpunt,” het ’n opgewonde Kruger gesê, wat aan die onderpunt van Constantia-nek nog vyfde was.
“Ek was bo-op Constantia vierde en het so 4 km van die einde af in die derde plek ingeskuif. Van daar af kon ek nie die glimlag van my gesig af kry nie!”
Vroeër in die dag het die Kapenaar Lushapo April 11 000 ander atlete geklop en die Twee Oseane-halfmarathon in 63:54 gewen.
Die Olimpiese baanatleet René Kalmer (Nedbank, 72:39) was die eerste vrou, gevolg deur haar oefenmaat Irvette van Blerk (72:55), wat haar vinnigste halfmarathon tot nog toe gehardloop het.
- Sport24