SA langasems byt in stof
2010-11-08 07:45
Pretoria - Die drang om geld te verdien en kortsigtigheid is die rede waarom Suid-Afrika se voorste langasems in gister se Soweto-marathon sleg tweede gekom het.
Drie atlete van Lesotho het in die wedloop vir mans eerste oor die wenstreep gedraf.
Lebenya Nkoka het in 2 uur 19 minute en 44 sekondes gewen. Teboho Sello was tweede in 2:20:10 en Nkahbutiane Motioka derde in 2:21:18.
Lesotho se atlete het ook die volgende drie plekke ingeneem.
Vusi Malobola, wat sewende in 2:22:51 geëindig het, was die eerste Suid-Afrikaner oor die eindstreep.
Die vertoning van Suid-Afrika se vroue-atlete was ewe beroerd.
Mamorallo Tjoka van Lesotho het in 2:48:46 gewen. Hongarye se Simone Staicu was tweede in 2:49:20.
Suid-Afrika se Charné Bosman het derde, amper 10 minute ná die wenner, eers oor die eindstreep gedraf.
Nick Bester van die Nedbank-marathonklub was moedeloos ná die wedloop.
“Die groot probleem is dat ons Suid-Afrikaanse marathon-atlete weier om na goeie raad te luister.
“Ek het al soveel keer vir my atlete gesê dit is ’n fout om naweek ná naweek aan wedlope deel te neem.
“Geen menslike liggaam kan soveel straf verduur nie.
“Ongelukkig is dit vir die meeste Suid-Afrikaanse padatlete meer belangrik om elke naweek ’n paar rand te probeer wen.
“Dit lei daartoe dat wanneer dit kom by die wedlope wat saak maak, die atlete te moeg is om te presteer.
“In kort kom dit daarop neer dat ons atlete kortsigtig is. Solank dit so aangaan, sal geen Suid-Afrikaanse atleet ooit ’n medalje op die Olimpiese Spele of Wêreldbyeenkoms wen nie.
“Ek het ná die Soweto-marathon met Lesotho se marathon-atlete gepraat.
Hulle het dit duidelik gemaak dat hulle elke jaar net op twee of drie marathons fokus.
“Hulle is ook bereid om gedurende ’n wedloop as span saam te werk om sodoende te verseker dat een van hulle wen.”
Staicu het in die vroue-wedloop gewys waaroor vasbyt nou eintlik gaan.
Sy die fout begaan om die marathon met ’n paar splinternuwe vreemde drafskoene aan te durf en het die prys betaal.
Sommer binne die eerste 10 kilometer was die vel van haar regterhak afgeskaaf en het haar voet erg begin bloei.
Ondanks die pyn het sy geweier om bes te gee. Tjoka het eers ná 38 km daarin geslaag om die Hongaar af te skud.
“Dit is vir my ’n saak van eer om elke wedloop wat ek begin, klaar te maak,” het Staicu gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24