SA kan wél Spele aanbied – Rogge
2010-12-07 10:08
Durban. – Jacques Rogge, voorsitter van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), het Maandag daarop gesinspeel dat die kans goed is dat Suid-Afrika die 2020 Olimpiese Spele kan aanbied as hy ’n bod sou insit.
Volgens Rogge het hy geen twyfel dat Suid-Afrika ’n sukses van die Spele sal maak nie.
“Suid-Afrika het al verskeie keer bewys dat hy die kundigheid en infrastruktuur het om groot sportbyeenkomste met welslae aan te bied.
“Afrika is die enigste vasteland waar die Spele nog nie aangebied is nie.”
Rogge was ’n gasspreker op die sewende konferensie vir sport, opvoeding en kultuur wat in Durban aangebied is.
Sam Ramsamy, uitvoerende lid van die Olimpiese Komitee, wou nie bevestig of Suid-Afrika wel gaan bie om die Spele in 2020 aan te bied nie.
“Vir nou gaan ek doelbewus so vaag moontlik wees oor of Suid-Afrika planne het om die Spele aan te bied,” het Ramsamy met ’n groot glimlag gesê.
“Ek kan maar net die IOK bedank vir al die pluimpies wat Suid-Afrika toegeswaai word.
“Dit is nog heeltemal te vroeg om nou al te bespiegel oor 2020 se Spele. Daar moet nog eers samesprekinge met die regering gehou word en ons sal ook met die ander lande van Afrika moet praat om uit te vind hoe hulle daaroor voel.”
As Suid-Afrika wel die Spele aanbied, sal dit waarskynlik in Durban wees.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24
- SAPA