SA hoop op Spele-sukses in Londen
2012-01-09 11:14
Kaapstad – Een van die wêreld se grootste sportbyeenkomste, die Olimpiese Spele, skop Maandag oor presies 200 dae in Londen af.
Die openingseremonie van die Spele sal op 27 Julie plaasvind, en die byeenkoms sal weer op 12 Augustus ten einde loop.
Altesaam 26 sportsoorte sal by vanjaar se spele te sien wees.
“Die Olimpiese jaar van 2012 het uiteindelik aangebreek,” het die hoof van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc), Tubby Reddy, gesê.
“Ons het baie ure in ons sportsterre belê en hopelik sal ons van daardie vrugte in Londen pluk.
“Baie van die sportkodes is nou besig met die finale voorbereiding vir hulle kwalifisering.”
Die finale datum om vir die Spele te kwalifiseer is 31 Mei, maar verskillende sportsoorte het verskillende afsnydatums.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa - AFP