SA-fietstoer se datum, ‘later bekend’
2010-11-03 09:43
Pretoria - Fietsry Suid-Afrika (FSA) het Dinsdag verseker dat die Toer van Suid-Afrika beslis aanstaande jaar sal plaasvind, al het hy nog geen nader besonderhede daaroor bekend gemaak nie.
FSA se stilswye oor dié toer skep ’n groot dilemma vir die plaaslike beroepspanne omdat hulle besig is met hul beplanning vir aanstaande jaar.
Hulle weet steeds nie waar en wanneer die toer gaan plaasvind nie.
Ciska Austin, sekretaris-generaal van FSA, sê sy kan nie verstaan hoekom daar enige twyfel oor die toer bestaan nie.
“Ons het reeds in Augustus op ’n nuuskonferensie aangekondig dat die toer gaan plaasvind. Ons moes tot 15 Oktober vir die Internasionale Fietsryvereniging (UCI) wag om finaal te besluit oor die aantal dae wat die toer mag duur en wanneer ons dit mag aanbied.
“Aanvanklik het die UCI gesê dit moet ’n sewedaagse toer wees, maar nadat ons weer met hulle onderhandel het, het hulle ingestem dat ons ’n sewedaagse toer met agt skofte mag aanbied.
“Die toerkomitee gaan van Sondag ’n proeflopie doen. Die plan is om oor die voorgestelde roete te ry en die begin- en eindpunte van elke skof in elke dorp te besoek.
“Dit is vir ons belangrik dat alles in plek is voordat ons die finale aankondiging oor dié toer doen. Die plan is om voor die einde van die maand bekend te maak waar en wanneer dit gaan plaasvind.
“Al wat ek nou kan sê, is dat dit ’n opwindende toer gaan wees,” het Austin gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24