SA-fietsryers in slaggat-ongeluk
2010-09-03 13:22
Johannesburg - ’n Slaggat was die oorsaak van die ongeluk waarin drie fietsryers van die MTN-Energade span Donderdag met gebreekte bene in die hospitaal beland het.
Dit is nie seker of die beseerde fietsryers Jaco Venter, Dylan Girdlestone en Bradley Potgieter aan die drie laaste groot byeenkomste van die jaar (Amashova, OFM en 94.70) sal kan deelneem nie.
Venter het sy arm op drie plekke gebreek. Girdlestone het sy sleutelbeen gebreek en Potgieter het die enkel wat hy vroeër vanjaar in 'n motorongeluk beseer het, weer in Donderdag se ongeluk seergemaak.
Reinhardt Janse van Rensburg, wat saam met sy spanmaats op die pad verby die Hartbeeshoek satellietstasie geoefen het, het gesê hulle het saam met 'n pasaangee-motor geoefen toe die ongeluk gebeur het.
Jaco en ek het langs mekaar gery en Bradley en Dylan was voor ons op hul fietse. Ons spoed was ongeveer 80 km/h toe Jaco die slaggat getref het,” het Janse van Rensburg gesê.
Ian Wilson, die bestuurder van die spanmotor, het dadelik gerem toe hy in sy tru-spieëltjie gesien het wat gebeur het.
“Ongelukkig het Dylan en Bradley agter hulle gekyk om te sien of Jaco ernstig seergekry het. Toe ry hulle teen die spanmotor vas," het Janse van Rensburg gesê.
Dié ongeluk beteken dat MTN-Energade Sondag met slegs die helfte van hul span aan die Dome2Dome-byeenkoms in Johannesburg sal deelneem.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24