SA atlete ‘moet ophou kla’
2011-03-07 07:40
Pretoria - Suid-Afrika se landloopatlete het Sondag in Nuweland op die eerste Afrika-byeenkoms erg teleurgestel.
Kenia se atlete het skoonskip gemaak deur al vier die spanafdelings te wen – en nie al die land se beste atlete het deelgeneem nie.
Kgosi Tsosane en Stephen Mokoka, wat onderskeidelik vyfde en sesde in die senior mans se wedloop oor 12km geëindig het, was Suid-Afrika se twee beste atlete.
James Evans, voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA), was duidelik moedeloos oor die plaaslike atlete se vertonings. “Al wat die Suid-Afrikaanse atlete goed gedoen het, was om te kla. Van die atlete het gemeen die baan met sy skerp draaie en boomwortels wat plek-plek uitgesteek het, was te gevaarlik.
“Ek dink nie so nie. Ek sal toegee dat dit nie ’n maklike baan was nie, maar dan is landloop nie veronderstel om maklik te wees nie.
“Geen van die ander lande se atlete het oor die baan gekla nie. Die Keniane het net gevra dat ons matte oor die sypaadjies gooi omdat hulle nie met hul spykerskoene daaroor kan harloop nie.
“Ek dink ons atlete moet ’n slag ophou kla en hulle net daarop toespits om te hardloop. Die atlete moenie dink hulle gaan oor twee weke op die Wêreldbyeenkoms in Spanje op plat, breë paaie hardloop nie.
“Ek dink ’n groot tekortkoming in Suid-Afrikaanse landloop is dat ons atlete nie daartoe in staat is om by verskillende omstandighede en roetes aan te pas nie.”
Volgens Evans het hy tog hoop dat Suid-Afrika se senior en junior manspanne nie te sleg sal vaar op die Wêreldbyeenkoms nie. “Stephen Mokoka het vandag takties ’n dom wedloop gehardloop; hopelik sal hy nie weer dieselfde fout begaan nie.”
SA se manspan was tweede in die spanafdeling.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24