SA-atlete blink uit
2009-10-12 12:12
Johannesburg - Die Suid Afrikaanse atletiekspan het Sondag uitgeblink tydens die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Halfmaraton Wêreldkampioenskappe in Birmingham, Engeland.
Die span het sy beste resultate in etlike jare in beide die individuele- en spankompetisies behaal.
Stephen Mokoka het agste in die padwedloop geëindig met ‘n tyd van 61:36 en homself met dié prestasie onder die wêreld se top-padwedlopers geplaas.
Sy oorwinning het gesorg dat Suid-Afrika die sesde posisie in die spankompetisie kon behaal met ‘n algehele tyd van 3:08:59.
Mokoka se tyd is die beste vir 'n Suid-Afrikaanse atleet sedert Norman Dlomo tiende plek in 2005 behaal het.
Die span se eindposisie is ook die beste sedert 2002, toe Suid-Afrika vyfde was.
Die land se vroue-atlete het net so goed gedoen, met Rene Kalmer en Annerien van Schalkwyk wat beide onder die top-twintig atlete geëindig het.
Kalmer het haar persoonlike rekordtyd verbeter toe sy in 70:37 in die vyftiende plek klaargemaak het.
Van Schalkwyk het ook haar eie rekord verbeter.
Sy het met ‘n tyd van 71:26 twintigste geëindig.
Met 'n eindtyd van 3:36:30 het die Suid-Afrikaanse vrouespan beter gedoen in die spankompetisie as nog ooit tevore en sesde gekom.
Die mans- en vrouespanne se beloning vir hul sesde posisie is ongeveer R22 000 per span.
- Sapa