SA-atleet 'erken' opkikker-voorval
2010-09-16 13:40
Johannesburg – In die jongste skandaal waarby Atletiek SA betrokke is, het 'n bekende atleet erken dat sy sonder haar medewete met 'n verbode middel ingespuit is.
Geraldine Pillay, 'n silwer medalje wenner in die 100 m vir vroue by die Statebondspele, het aan Radio 702 gesê sy was onder die indruk dat die middel waarmee ‘n spandokter haar in 2008 ingespuit het, ‘n vitamien mengsel was.
Later het dit aan die lig gekom dat dit die verbode middel Actovegin was, wat van gefilterde kalfsbloed gemaak word.
Pillay het gesê dié middel is op advies van Ekkart Arbeit, ‘n voormalige afrigter van Oos-Duitsland, ingespuit.
Aanvanklike inligting oor die opkikker-voorval het in The Citizen verskyn waar dié koerant 'n verslag van die ouditeursfirma Deloitte en Touche aangehaal het.
Die ouditeursfirma is deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en die Olimpiese Komitee (Saskok) gevra om ondersoek in te stel na beweringe van wanbestuur deur ASA amptenare.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24