SA aanslag eindig in New York
2011-09-05 08:10
New York. – Suid-Afrika se Chani Scheepers was Saterdag hier een punt weg van ’n oorwinning oor die sewende gekeurde, Francesca Sciavone van Italië, in die derde ronde van die Amerikaanse Ope.
Sy kon dit egter nie benut nie en is met 5-7, 7-6 (7/5), 6-3 uitgeskakel.
Suid-Afrika se voorste manstennisspeler, Kevin Anderson, kon ook nie verby die derde ronde op Flushing Meadows kom nie. Hy het teen die agtste gekeurde, Mardy Fish van Amerika, vasgeval.
Fish het met 6-4, 7-6 (7/4), 7-6 (7/3) deurgedring en speel nou teen die Fransman Jo-Wilfried Tsonga, wat 11de gekeur is.
Novak Djokovic, die top-gekeurde, het sy 60ste oorwinning van die jaar behaal toe hy die Rus Nikolay Davydenko met 6-3, 6-4, 6-2 verslaan het.
Sy volgende teenstander is Alexandr Dolgopolov van die Oekraïne.
“Ek het goed gespeel in belangrike oomblikke en het die deurbrake in elke stel gekry wat ek moes,” het Djokovic gesê.
Serena Williams, wat verlede jaar se toernooi weens siekte misgeloop het, het die vierde gekeurde, Victoria Azarenka van Belarus, met 6-1, 7-6 (7/5) geklop om die laaste 16 te haal.
Williams, 28ste gekeur, wat nou reeds 13 Grand Slam-titels gewen het, kom nou teen Ana Ivanovic van Serwië te staan.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24