Ryers vang gees op toer van SA
2011-02-24 07:24
Kaapstad - Ná die minder oortuigende en selfs rampspoedige begin van die Toer van Suid-Afrika is dié meerdaagse padfietstoer uiteindelik besig om die fietsrygemeenskap se verbeelding aan te gryp.
Dié agtdaagse toer oor sewe skofte kom Saterdag in die Paarl tot ’n einde. Die toer het verlede Saterdag in Pretoria begin. Die tweede skof in Johannesburg is egter gekanselleer nadat probleme met die verkeer in Sandton dit onveilig vir die jaers gemaak het
Daar is erg asem opgehou vir die derde skof Dinsdag in Port Elizabeth, waar daar vroeër vandeesmaand probleme met die verkeer was tydens die Suid-Afrikaanse padfietsry-byeenkoms.
’n Groter sukses kon dié skof en Woensdag s’n egter nie gewees het nie. Woensdag was die taaiste skof. Dit het by die Bloukransbrug begin en 153 km later in George geëindig.
Arran Brown (MTN-Qhubeka) en verskeie ander ryers is die laaste twee dae vol lof vir dié toer.
“Die toer is regtig goed georganiseerd. Ons sien baie uit na die komende skofte in die Kaapse omgewing. As span is ons baie aggressief en glo ons gaan binnekort iets daarvoor terugkry,” het hy gesê.
Brown se spanmaat Daryl Impey is tans die voorste jaer van Afrika in die toer én die voorloper in die Bobaas van die Berge-kompetisie.
“Ongelooflike skof in die Toer van Suid-Afrika. So mooi soos enige ander in die wêreld,” het die Suid-Afrikaanse kampioen, Darren Lill, op Twitter gesê.
Nader aan die Kaap is die goeie nuus vir ondersteuners en geesdriftiges dat daar verskeie punte op die roete is waar die jaers aangemoedig kan word.
Vandag se vyfde skof oor 175 km begin om 10:00 in Voortrekkerstraat, Oudtshoorn. Ongeveer 11:00 sal die bondel Calitzdorp binnejaag. Hulle word teen 12:00 in Koningstraat in Ladismith verwag, en teen 14:20 by die eindpunt in Van Riebeeckstraat, Barrydale.
Die voorlaaste skof is van Hermanus tot Stellenbosch (140 km).
Die aksie begin weer om 10:00 en jaers word teen 12:35 by die Hugenote-monument in Franschhoek verwag. Die eindpunt is die Helshoogtepas en die verwagte tyd vir die eerste jaers se aankoms is 13:20.
Die laaste skof is in die Paarl oor 100 km. Dit is ’n sirkelroete, wat beteken jaers sal verskeie kere te sien wees. Die aksie begin om 12:00 en die jaers sal in Mark-, Bergrivier- en Lady Greystraat gesien kan word.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24