Ryers ‘sal veilig wees’
2011-02-22 08:12
Port Elizabeth - Die amper 120 fietsryers wat vandag (Dinsdag) die derde skof van Cell C se Toer van Suid-Afrika op die paaie in en om Port Elizabeth aandurf, hoef nie vir hul veiligheid te vrees nie.
Barry Austin, die Toer-direkteur, het dié versekering Maandag gegee nadat Sondag se tweede skof van die Cell C-toer juis om veiligheidsredes afgelas is.
Drie weke gelede, toe die Suid-Afrikaanse padbyeenkoms in Port Elizabeth plaasgevind het, was daar ’n erge verkeerschaos. Dit het daartoe gelei dat die roete inderhaas verkort moes word. Van die renne het laat begin en ander is afgelas.
“Ons laat dié keer niks aan die noodlot oor nie. Ek het vandag (gister) samesprekings met Port Elizabeth se burgemeester, die verkeershoof en al die ander belangrike rolspelers gevoer,” het Austin gesê.
“Niemand wil ’n herhaling van die vorige chaos hê nie. Spesiale moeite is gedoen om te verseker dat almal wat by die verkeersreëlings betrokke gaan wees, presies weet wat van hulle verwag word.”
Die skof oor 177 km sal na verwagting deur ’n naelryer gewen word. Herman Fouché (DCM) wat in Saterdag se eerste skof algeheel tweede geëindig het nadat hy die bondelnaelrit gewen het, is beslis een van die gunstelinge.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24