Rugbesering hou Venus op kantlyn
2013-02-06 12:32
Doha – Die Amerikaanse tennisspeler Venus Williams moes uit die Katar Ope-toernooi in Doha weens 'n langdurige rugbesering onttrek.
Die 23ste gekeurde Williams word sedert die Australiese Ope deur rugprobleme geteister en sal ook noodgedwonge die opkomende Federasiebeker-wedstryd teen Italië misloop.
Sy sal deur Andrea Hlavackova in die Katar-toernooi vervang word.
Williams het in skoon stelle teen Maria Sharapova in die derde ronde van die Australiese Ope verloor voordat sy in die dubbelstoernooi saam met haar jonger suster, Serena, in die kwarteindronde uitgeskakel is.
Serena Williams, wat self van rugpyn gekla het tydens haar nederlaag by die Australiese Ope teen Sloane Stephens, asook die top-gekeurde Victoria Azarenka speel wel in Doha.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AP