Rogge: IAAF had te min tyd
2009-09-17 19:21
Hamburg - Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), Jacques Rogge, het in die bresse getree vir die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) en gesê hul uurglas rondom die Caster Semenya-saga, het leeggeloop.
"Ek dink die IAAF het te min tyd gehad. Die atleet het kort voor die Wêreldkampioenskappe in die kollig verskyn," het hy gesê.
Rogge het Donderdag tydens 'n telekonferensie vanuit Switserland oor die "komplekse kwessie" rondom Suid-Afrika se 800m-atleet gepraat.
Die Internasionale Vereniging van Atletiek-federasies (IAAF) het daarop aangedring dat Semenya geslagstoetse ondergaan nadat sy die 800m gewen het by die Wêreldkampioenskappe in Berlyn verlede maand.
Sedertdien vlieg die beskuldigings heen en weer dat Atletiek Suid-Afrika, Semenya sonder haar kennis vir geslagstoetse gestuur het voor sy na die byeenkoms in Berlyn vertrek het.
"Hoewel die IAAF ondersoek na die bewerings ingestel het, vat dié proses 'n lang tyd. Die uitslae was nie teen haar vertoning in Berlyn beskikbaar nie," het Rogge gesê.
Hy het gesê hy wag soos almal vir die uitslae en wat kenners in die saak se besluit gaan wees.
"Dit is 'n gekompliseerde saak. Daar is nie 'n positiewe of negatiewe definisie van geslag is nie. Kenners moet besluit of die atleet saam met vroue kan deelneem of nie."
Nuusberigte in Australië het verlede week onthul dat Semenya tweeslagtig is.
Die IAAF het nog nie die uitslae amptelik bekendgemaak nie. Dié uitslae sal eers in November beskikbaar wees.
– Sapa-dpa