Roger breed in Rafa se pad na nr. 6
2011-06-05 12:00
Johannesburg - Roger Federer het reeds die afgelope week in Parys in die pad van een man se legende gaan staan. Vandag, in ’n watertand-kragmeting met sy heel gedugste teenstander, kry hy wéér die kans om moontlike geskiedenis te verhoed, en in die proses nog ’n hoofstuk by sy eie storie te voeg.
Die legendariese Switser kom Sondag vir die vyfde keer in sy loopbaan op Roland Garros se hoofbaan te staan teen die kleikoning, Rafael Nadal, nadat hy Vrydag die eerste man in 44 wedstryde, sewe maande en nege toernooie was wat die Serwiër Novak Djokovic kon klop.
Dít was ’n verrassende wending vir ’n man wie se ster die laaste 17 maande stelselmatig verdof het, en wat ’n Grand Slam-stryd teen Djokovic Vrydag vir die eerste keer ooit as buiteperd begin het.
Maar dis ook sulke oomblikke wat dikwels die teelaarde vir merkwaardigheid word, soos Federer duidelik besef het. Soos die oorheerser van ouds het hy sy teenstander gepeper met ’n rits yslike, op-die-tiekie voorarmhoue. Hy het sy afslane laat tel en die grootste punte met al die kalmte in die wêreld gewen.
Die uitslag was 7-6 (7/5), 6-3, 3-6, 7-6 (7/5) en Federer se vertoning was ’n vermaning vir ’n wêreld wat hom begin afskryf het: Spelpeil is dalk tydelik, maar klas hou vir ewig. En as die Switser gemotiveerd is, vloei sy klas in emmersvol.
Dít is wat vandag se eindstryd kan onderskei van die vorige drie teen Nadal op Roland Garros se rooi klei, wat die Spanjaard almal maklik gewen het. Federer het weer ’n punt om te bewys. Vrydag het hy op die baan gestap en geweet hy het ’n gulde geleentheid om te wys dat sy onlangse onvermoë nie beteken hy’s deesdae ’n onbeholpe speler nie.
“Ek het nie verdwyn nie. Ek het wel die laaste paar jaar goeie wedstryde gespeel. Ek het nie iewers op ’n strand gaan lê nie,” het hy Vrydagaand volgens AP gesê.
Vandag sal hy met daardie houding op die baan moet stap, en Nadal met dieselfde medisyne moet behandel as vir Djokovic.
Maklik gaan dit nie wees nie. Dis welbekend dat Nadal op klei nie ’n kat is wat sonder handskoene gepak moet word nie, soos hy weer die afgelope week herinner het. Hy is in die eerste ronde tot vyf stelle gedwing deur die Amerikaner John Isner, en het ook in die tweede ronde gesukkel, maar het sedertdien van krag tot krag gegaan en sy halfeindstryd teen Andy Murray Vrydag, op sy 25ste verjaarsdag, in skoon stelle met 6-4, 7-5, 6-4 gewen.
Nadal se wen/verloor-rekord by Roland Garros is ’n verstommende 44-1 en hy maak vandag jag op sy sesde Franse Ope-kroon in 7 jaar. Daarmee sal hy Björn Borg se rekord van ses titels ewenaar.
“Ek dink nie eers daaraan nie,” het hy Vrydag gesê.
“Ek het baie respek vir die grote Björn, maar ek fokus daarop om goed te probeer speel. Vir my is dit belangriker om Roland Garros te wen as om Björn se rekord te ewenaar.”
Nadal en Federer durf mekaar vandag die vyfde keer in die Franse Ope aan, en die vierde keer in ’n eindstryd. Nadal het al vier dié wedstryde gewen, en van hul 24 kragmetings op alle oppervlakke het hy 16 gewen.