Roger Federer met die dood gedreig
2012-10-05 07:40
Shanghai – Organiseerders van die Shanghai Meesterstoernooi in China het sekuriteit rondom Roger Federer verskerp nadat die eerste gekeurde tennisspeler 'n doodsdreigement op die internet ontvang het.
Ekstra veiligheidsmaatreëls vir Federer, wat Donderdag met sy gesin in Shanghai aangekom het, is in plek nadat 'n onbekende blogger op 'n gewilde Chinese webtuiste gesê het hy beplan om die speler "te vermoor".
"Op 6 Oktober beplan ek om Federer dood te maak met die doel om tennis uit te wis," het die vreemde boodskap gelui, wat onder die naam "Blue Cat Polytheistic Religion Founder 07" op baidu.com verskyn het.
Die internetgebruiker het ook 'n gemanipuleerde foto op die webtuiste geplaas wat Federer onthoof, op sy knieë op 'n tennisbaan met 'n gemaskerde laksman wat langs die speler met 'n byl in sy hande staan, wys.
Die polisie en ander regeringsagentskappe is in kennis gestel om sekuriteit rondom Federer te verskerp, het 'n beampte van die toernooi se organiseringskomitee Vrydag aan die Shanghai Youth-koerant gesê.
"Ons hoop dat dit slegs 'n mondelingse dreigement is, maar moet dit steeds ernstig opneem," het Yany Yibin gesê.
Aanvalle op spelers is nie algemeen nie, maar in 1993 is Monica Seles met 'n mes gesteek tydens 'n wedstryd in Hamburg, Duitsland.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
- AFP