Roddick pak tasse
2010-06-29 08:44
Londen – ’n Ongekeurde Taiwannees het Maandag vir die grootste opskudding in vanjaar se Wimbledon-tennistoernooi gesorg toe hy verlede jaar se verslane finalis, Andy Roddick, uitgeskakel het.
“Dit is soos ’n droom. Ek kan nie glo dit het gebeur nie,” het ’n verslae Lu Yen-Hsun gesê.
Lu het die vyfde gekeurde van Amerika met 4-6, 7-6, 7-6, 6-7 en 9-7 geklop vir ’n plek in die kwarteindronde teen die derde gekeurde, Novak Djokovic.
Dié Serwiër het die Aussie Lleyton Hewitt (15de), wat in ’n opwarmtoernooi met Roger Federer afgereken het, huis toe gestuur.
Djokovic het Hewitt goed laat verstaan dat Wimbledon ’n perd van ’n ander kleur as ’n toernooi in Halle, Duitsland, is deur hom met 7-5, 6-4, 3-6 en 6-4 te klop.
Ná sy gesukkel in die eerste paar rondes speel die verdedigende kampioen, Federer, nou – wanneer dit regtig saak maak – weer van sy beste tennis.
Hy het Jurgen Melzer (Oostenryk) gister met 6-3, 6-2 en 6-3 kafgedraf.
Nog ’n speler wat ná twee vyfstel-wedstryde weer op koers is, is die tweede gekeurde, Rafael Nadal van Spanje, wat Paul-Henri Mathieu met 6-4, 6-2 en 6-2 kafgedraf het.
Die vierde gekeurde, Andy Murray, het die Britse hoop lewend gehou toe hy Sam Querrey van Amerika maklik met 7-5, 6-3 en 6-4 uitgeskakel het.
Die verslane Franse Ope-finalis, Robin Soderling, is ook veilig deur ná ’n taai stryd teen Spanje se David Ferrer.
Die derde gekeurde vrou, Caroline Wozniacki (Denemarke), is verneder in haar stryd van 46 minute teen die ongekeurde Tsjeg Petra Kvitova.
Die vierde gekeurde, Jelena Jankovic (Serwië), het weer geen vreugde op Wimbledon ervaar nie.
Sy het haar wedstryd teen Rusland se Vera Zvonareva weens ’n besering prysgegee.
Kim Clijsters het teruggeveg om haar Belgiese landgenoot Justine Henin met 2-6, 6-2 en 6-3 te klop.
Die Williams-susters moes baklei vir hul seges.
Die verdedigende kampioen, Serena, het Maria Sharapova met 7-6, 6-4 geklop, terwyl Venus alles moes uithaal om Jarmila Groth van Australië uit te skakel (6-4, 7-6).
Serena se volgende teenstander is China se Na Li, wat steeds goeie tennis speel nadat sy die opwarmtoernooi in Birmingham gewen het.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24
- Sapa - AFP