Robert Kubica in operasie om hand te red
2011-02-07 11:15
Genoa, Italië - Die Formule Een-renjaer Robert Kubica sal waarskynlik vir 'n jaar lank buite aksie wees nadat hy Sondag in Italië in 'n ernstige ongeluk betrokke was.
Dokters het vir langer as sewe ure 'n operasie op die hand van die 26-jarige Kubica uitgevoer.
In 'n stadium het die dokters gevrees dat hy die gebruik van sy hand sou verloor.
Hy sê die volle omvang van die besering sal eers na 'n paar dae vasgestel kan word.
Die Poolse jaer sou vanjaar deel van die Lotus Renault Formule Een-span wees.
Lotus Renault het Maandag 'n persverklaring uitgereik waarin die span bevestig dat hy veelvoudige frakture aan sy regterhand, -arm en -been opgedoen het.
Kubica was in 2007 ook in 'n ongeluk betrokke toe hy by die Kanadese Grand Prix in sy Sauber teen 300 km/h in 'n muur vasgejaag het. Hy het slegs 'n enkel seergemaak en het net een Grand Prix-wedren misgeloop.
Die nuwe Formule Een-seisoen begin op 13 Maart in Bahrain.
Volg Nuus24 op Twitter.
- RSG en Wheels24