Rekords spat by Aus Ope
2011-01-24 07:23
Melbourne. – Sondag was ’n dag van uitsonderlike rekords in die Australiese Ope-tennistoernooi.
Die kampioen, Roger Federer, het ’n Grand Slam-rekord geëwenaar wat wys hoe bestendig hy die afgelope agt jaar van sy loopbaan was.
En Fransesca Schiavone het besonderse uithouvermoë aan die dag gelê vir haar aandeel in die langste vrouewedstryd.
Federer het Jimmy Connors se rekord van agtereenvolgende kwarteindstrydverskynings in Grand Slam-toernooie geëwenaar nadat hy Tommy Robredo met 6-3, 3-6, 6-3, 6-2 in die vierde ronde geklop het.
Die 16-malige Grand Slam-wenner het sedert 2004 die kwarteindronde in 27 Grand Slam-toernooie agtereenvolgens gehaal.
Connors het sy rekord tussen 1973 en 1983 opgestel, maar hy het 13 Grand Slam-toernooie in dié tyd misgeloop.
Federer, tweede gekeur, kom nou teen sy Switserse landgenoot Stanislas Wawrinka te staan. Wawrinka het verras deur die agtste gekeurde, Andy Roddick, uit te skakel.
Schiavone, die Franse Ope-kampioen, het ’n rekordtyd van 4 uur en 44 minute nodig gehad om die Rus Svetlana Kuznetsova met 6-4, 1-6, 16-14 te klop.
Die Italianer het ses wedstrydpunte afgeweer en toe met haar derde wedstrydpunt die sege beklink in die langste Grand Slam-vrouewedstryd van die Ope-era.
Die vorige langste Grand Slam-wedstryd was twee jaar gelede – ook hier. Dit het 4 uur en 19 minute geduur.
Die 30-jarige Schiavone het gesê sy was uitgeput, maar “dat daar altyd iets oor is”.
Volgens Kuznetsova was sy so moeg dat sy nie meer telling gehou het of geweet het wie moes wanneer afslaan nie.
Schiavone se volgende teenstander is die eerste gekeurde, Caroline Wozniacki van Denemarke.
Die derde gekeurde, Novak Djokovic, is steeds goed op pad na sy tweede Grand Slam-titel, terwyl Tomas Berdych sonder enige moeite sy plek in die kwarteindronde bespreek het.
Duitsland se Andrea Petkovic het die kampioen van 2008, Maria Sharapova, maklik met 6-2, 6-3 geklop.
* Saterdag het Rafael Nadal (Sp, 1), Robin Soderling (Swede, 4) en Andy Murray (Brit, 5) hul plek in die volgende ronde bespreek. Mikhail Youzhny (Rus, 10) en Jo-Wilfried Tsonga (Fr, 13) is uitgeskakel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP