Rekord vir Chad ná sy 22ste goue
2011-11-10 09:01
Johannesburg. – Chad le Clos is die koning van Fina se kortbad-wêreldreeks vanjaar.
Dié 19-jarige swemmer van Durban het Woensdag in die spore van sy landgenote Ryk Neethling en Cameron van der Burgh gevolg toe hy die beste swemmer in Beijing se kortbadbyeenkoms was. Hy het terselfdertyd ’n onaanvegbare voorsprong op die reeks se algehele punteleer opgebou.
Neethling het dié reeks in 2005 en 2006 oorheers, Van der Burgh was in 2008 en 2009 baas en Le Clos het vanjaar nie sy gelyke gehad nie.
Dié tiener het die sesde van sewe kortbad-byeenkomste Woensdag met ’n voorsprong van 66 punte op die algehele puntelys afgesluit. Die maksimum wat dié naweek in Tokio by die laaste afspraak in Tokio op die spel is, is 50 punte. En soos Le Clos die afgelope week vertoon het, is daar ’n uitstekende kans dat hy dit sal losswem.
Le Clos het Woensdagmiddag nog drie goue medaljes verower. Hy het Dinsdag op die eerste dag ook drie goues in sy sak gesteek. Dit was die derde keer dat hy ses goue medaljes op een byeenkoms verower het en die vierde keer dat hy die beste swemmer op ’n byeenkoms in die reeks was.
Sy welslae gister in die 200 m-vryslag, 100 vlinderslag en 200 individuele wisselslag was boonop sy 20ste, 21ste en 22ste goue van die reeks.
Daarmee het hy Randall Bal se rekord van 21 goues in ’n reeks oortref.
Dit het sy totale verdienste vir die ses byeenkomste tot R324 000 opgeskuif. Met die eerste prys van R800 000 vir beste swemmer van die reeks ook reeds syne, sal hy dus teen Sondagaand meer as ’n R1 miljoen ryker wees.
Le Clos het die 200 vryslag Woensdag in ’n uitstekende tyd van 1 minuut en 43.62 sekondes gewen. Dit was sy beste tyd van die seisoen en plaas hom derde op die wêreldranglys ná die Duitser Paul Biederman en die Amerikaner Michael Phelps.
Jiang Haiqi van China was tweede in 1:43.89.
In die 100 vlinderslag het Le Clos die Australiër Christopher Wright met veertien honderdstes van ’n sekonde geklop. Die wentyd was 50.93.
En in die 200 wisselslag was hy met meer as ’n sekonde baas. Sy tyd was 1:55.04. Nog ’n Aussie, Markus Rogan, was tweede in 1:56.33.
Le Clos het Dinsdag ook koning in die 400 individuele wisselslag, 200 vlinderslag en 100 individuele wisselslag gekraai.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24