Rafa berispe oor ‘nederigheid'
2011-06-21 09:09
Londen – In ’n tweede agtereenvolgende Grand Slam-toernooi is Rafael Nadal se posisie as voorste tennisspeler ter wêreld op die spel.
Die eerste gekeurde Nadal het Maandag sy eersteronde-wedstryd hier op Wimbledon teen Michael Russell van Amerika maklik met 6-4, 6-2, 6-2 gewen.
Nadal moet egter sy titel suksesvol verdedig én Novak Djokovic moet voor die eindstryd vasval vir die Spanjaard om sy eerste plek op die wêreldranglys te behou.
Intussen het die uitgesproke Amerikaner John McEnroe vir Nadal gevra om nie so nederig te wees nie en te erken dat hy dalk tog die beste speler van alle tye kan wees.
Nadal wil egter niks weet van dié status nie.
Nadal se 10 Grand Slam-titels is ses minder as Roger Federer se rekord.
“Ek raak nou moeg daarvan dat Nadal so nederig is,” het McEnroe aan die BBC gesê.
“Daar is beslis ’n argument vír hom as nie net die beste speler tans nie, maar die beste van alle tye. Behalwe vir sy Grand Slam-titels het hy al die Davisbeker en ’n Olimpiese goue medalje (enkelspel) gewen. Dit het Federer nog nie vermag nie. Hoekom kan Nadal nie maar net sê ‘Ek is die beste’ nie?”
Tomas Berdych, wat verlede jaar in die eindstryd teen Nadal verloor het, het sý veldtog ook met ’n sege begin.
Die Tsjeg het Filippo Volandri van Italië met 6-2, 6-2, 6-1 geklop.
Die vyfmalige vrouekampioen Venus Williams is maklik deur tot die tweede ronde nadat sy Oezbekistan se Akgul Amanmuradova met 6-3, 6-1 geklop het.
“Elke keer as ’n mens in ’n Grand Slam-toernooi speel, is jy effens op jou senuwees, maar omdat ek so lanklaas en so min gespeel het, was daar beslis ekstra druk,” het Williams gesê.
“Vandag het egter goed afgeloop. Dit is wonderlik om terug te wees.”
Williams kom nou teen Japan se Kimiko Date-Krumm te staan.
Die 40-jarige Date-Krumm is die tweede oudste speler tot nog toe wat ’n enkelspel-wedstryd op Wimbledon gewen het. Sy het die Brit Katie O’Brien met 6-0, 7-5 geklop.
“Ek onthou 1996 op die hoofbaan. Ek het teen Steffi Graf gespeel en dit was al donker,” het sy gesê oor die laaste keer dat sy ’n wedstryd by die All England Club gewen het.
“Dit was ’n groot wedstryd vir my. En nou, 15 jaar later, wen ek weer ’n wedstryd. Dit is omtrent ’n wonderwerk.”
Vera Zvonareva, die tweede gekeurde en verlede jaar se finalis, het groot geskrik in haar wedstryd teen die 20-jarige Amerikaner Alison Riske, wat maar in haar derde Grand Slam-toernooi speel. Die Rus was met 6-0, 3-6, 6-3 baas, maar moes hard baklei vir dié sege.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP