Rabie doen sy ding in Tour de Boland
2011-03-11 09:47
Paarl - Op die derde dag van die Le Coq Sportif Tour de Boland is daar meer gebrom en gegrom as enigiets anders.
Die dag het hier begin met ’n paar jaers wat gebrom het oor onvoldoende inligting rakende prysgeld, terwyl organiseerders gegrom het oor die onttrekking van jaers soos Burry Stander, Christiaan Kriek en Cherise Taylor.
Johann Rabie (Bonitas) het egter op sy gewone stil, maar baie oortuigende manier die derde skof Donderdag in 3 uur, 19 min. en 42 sek. gewen. Hy is nou die algehele voorloper in dié vierdaagse toer.
Darren Lill (DCM) en Louis Meintjies (Toyota Cyclelab) was onderskeidelik tweede en derde. Lill is algeheel derde en Christoff van Heerden (MTN-Qhubeka) is algeheel tweede – 9 sekondes agter Rabie.
Enkele sekondes voor die skof sou begin, het van die jaers met organiseerders begin kibbel oor die verdeling van die prysgeld.
Die organiseerders was besig om die roete vir die dag te verander nadat hulle gehoor het van die veldbrand teen die hange van die Du Toitskloof, waar jaers moes ry. Die skof is toe van 167 km tot 121 km verkort om almal se veiligheid te probeer verseker.
Vrydag se laaste skof is oor 64 km. Slegs enkele sekondes skei die voorste handvol jaers van mekaar.
Daar was groot ongelukkigheid omdat Stander (Specialized), Kriek en Taylor – wat voorlopers in verskillende afdelings was – hulle onttrek het. Stander, die bobaas van die berge, en Kriek, die voorste o.23-jaer, het besluit om nie die toer te voltooi nie, want môre is die SA Veldwedren-byeenkoms op Delvera, buite Stellenbosch.
Taylor, die algehele voorloper in die vrouekompetisie, het haar onttrek omdat sy haar oog op nog ’n Argus-titel het. Dié fietstoer vind Sondag plaas.
Die SA byeenkoms sou aanvanklik verlede naweek plaasgevind het, maar toe word die Grape Escape, ’n driedaagse bergfietstoer, ook op die kalender geplaas en die gevolg was dat die veldwedren-byeenkoms na môre verskuif is.
Stander is loshande die gunsteling, maar is slim genoeg om te weet dat hy nie onnodig kanse moet waag nie, want sy vernaamste teenstander, Philip Buys, is uitstekend op dreef.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24