Politici betrek by Semenya-debakel
2009-10-24 08:45
Wilhelm de Swardt
Pretoria
Caster Semenya is gisteraand as die Universiteit van Pretoria se sportvrou van die jaar aangewys.
Dit kom te midde van bewerings dat Leonard Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), ná geslagstoetse op haar ingestem het om haar aan die Wêreldbyeenkoms in Berlyn te onttrek, maar ’n dag later omgeswaai het nadat hy hooggeplaaste politici geraadpleeg het.
Dít blyk uit ’n verslag van dr. Harold Adams, spandokter van die Suid-Afrikaanse atletiekspan, wat die Mail & Guardian op sy webwerf gepubliseer het.
Butana Khompela, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, was een van dié politici, berig die koerant.
Khompela was gister erg omgekrap daaroor en het gesê hy het adv. Norman Arendse SC gevra om die berig na te gaan met die oog op moontlike regstappe.
Adams voer in sy verslag aan die toetse op Semenya is op 7 Augustus in Pretoria gedoen en Chuene het aanvanklik ingestem om haar te onttrek.
’n Dag later het hy van plan verander nadat hy die saak met vooraanstaande politici in die regering, asook Kakata Maponyane, visevoorsitter van ASA, bespreek het, lui die verslag.
“As ons vir Caster onttrek, gaan dit vir my moeilik wees om die besluit aan die politici te regverdig,” het Chuene luidens die verslag aan Adams gesê.
“Chuene het my toe versoek om ’n vergadering met die IAAF (Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies) se mediese komitee te reël.
“Chuene het dit aan die komitee duidelik gemaak dat om Caster aan die Wêreldbyeenkoms te onttrek volgens hooggeplaaste staatsamptenare glad nie ’n opsie was nie.”
Chuene was volgens Adams bereid om tot groot uiterstes te gaan om die waarheid te verdraai en reëls te verbreek om te verseker Semenya wen vir Suid-Afrika ’n medale, want dit sou hom goed laat lyk.
Chris Britz, visevoorsitter van ASA, wou nie kommentaar op Adams se bewerings lewer nie.
- Die Burger