'Plan nodig vir sport' – Mbalula
2011-11-16 17:29
Johannesburg – Suid-Afrika moet so gou moontlik ‘n ontwikkelingsplan vir sport in plek stel, het Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, Woensdag gesê.
“Ons benodig ‘n enkele ontwikkelingsteorie vir Suid-Afrika in terme van wat ons wil bereik as ‘n land, wat ons op die oomblik nie het nie,” het hy aan verslaggewers by die parlement gesê.
“Jy kan oor enigiets anders praat, maar die fundamentele vraag is, het jy ‘n strategie... en Suid-Afrika is een van daardie lande... wat nie ‘n plan het nie.”
Mbalula het gesê die witskrif-proses het uitgesak ná die era van Steve Tshwete.
Die nasionale sportindaba in Midrand volgende week het ten doel om hierdie probleem reg te stel, het hy gesê. Die doel is om die sportplan van papier tot praktyk te kry.
“Mense kla. Hulle kla oor baie dinge, oor transformasie... maar almal moet oor transformasie kan praat en weet wat die plan is.”
Australië was jare gelede in dieselfde posisie waar Suid-Afrika nou is, het hy gesê. Die land het toe ‘n nasionale sportplan in plek gestel en die uitslae is vandag duidelik. Dieselfde geld vir, onder meer, Amerika en die Verenigde Koninkryk.
Mbalula het gesê beskikbare talent moet “opgeneem word in ‘n nasionale sport- en ontspanningsentrum”, waar jongmense deur ‘n “ontwikkelingstelsel” sal werk.
“Jy kan van die stowwerige strate van Botshabelo af kom. As ons jou kan identifiseer, kry ons jou deur die stelsel.
“Ons sal jou na die sentrum neem, jy sal skoolgaan, jy sal ordentlik eet, jy sal ordentlik oefen en daar sal na jou omgesien word in beide die privaat- en openbare sektor in terme van befondsing.
“Dan sal jy die atleet word wat jy wil wees. Dit is wat ons wil bereik.”
Daar is geen krisis in sport nie, het hy gesê. Die feit is dat mense “inmekaarsak in die stelsel van ontwikkeling”.
“As jy nie gelukkig en taai is en ouers het wat jou ondersteun nie, is jy uit (die stelsel uit).”
Oor kwotas het Mbalula gesê dit is uitgeput en was teenproduktief.
‘n Ordentlike en effektiewe enkele ontwikkelingplan word dus benodig, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA