Patience se geduld...
2011-11-14 10:14
Johannesburg – Een van die oudste Suid-Afrikaanse atletiekrekords het ná 19 jaar getuimel.
Toe Charmain Barnard in 1992 in Bloemfontein die Suid-Afrikaanse rekord in die driesprong tot 13.46 m verbeter het, was Patience Ntshingila twee jaar oud.
Saterdag in Potchefstroom het dié 22-jarige derdejaar-student van die NWU-Pukke die einste rekord eindelik verbeter.
Op ’n Noordwes-ligabyeenkoms was sy eers met ’n afstand van 13.45 op die drumpel daarvan – en toe trek sy los met ’n sprong van 13.50.
Haar afrigter, Owen van Niekerk, was só oortuig daarvan dat sy eindelik met dié vergeelde rekord sou klaarspeel dat hy reeds Woensdag aan die organiseerders gesê het hulle “moet alles in gereedheid bring” – soos 'n windmeter en die regte maatband – “want sy gaan die rekord verbeter”.
Van Niekerk het gister aan Sport24 gesê: “Sy het daardie selfde Woensdag in ’n oefening verder as 14 meter gespring én in die verspring op ’n puik 6.75 geland.
“Ek het gedink sy sou al in Potch deur die 14 meter-grens breek.
“Sy kan dit vir seker doen – en wanneer sy dié Saterdag in Boksburg op ’n Sentraal-Gautengse ligabyeenkoms gaan spring, kan sy dit doen.”
Ntshingila, wat van haar skooldae af deur Owen en Maryna van Niekerk geslyp word, het Saterdag in Potchefstroom in die verspring ’n afstand van 6.29 behaal.
Volgens Owen kan sy ook in dié item met die nasionale rekord (Karin Mey se 6.93) klaarspeel: “Sy het die talent om selfs deur die 7 meter-grens te breek.”
Ntshingila het die afgelope twee jaar met spykerskoene deelgeneem wat twee nommers te groot was.
Volgens Van Niekerk het sy die afgelope week, vóór haar Potch-deurbraak, nuwe skoene van ’n borg ontvang, “maar dié skoene was weer een grootte te klein vir haar en het haar voete opgedreun”.
Ntshingila het vroeër vanjaar twee titels (in die verspring én die driesprong) vir die NWU-Pukke op die SA Universiteite-kampioenskappe gewen.
Haar droom is nou om Suid-Afrika volgende jaar in Londen op die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
– Sport24
– Vir die jongste sportnuus volg Nuu24Sport op Twitter.