Pasella vir Rafael Nadal
2011-01-19 10:01
Melbourne. – Die top-gekeurde, Rafael Nadal, het Dinsdag hier in die Australiese Ope-tennistoernooi ’n oorwinning op ’n skinkbord gekry, terwyl Kim Clijsters Dinara Safina met 6-0, 6-0 in die eerste ronde verneder het.
Die voormalige nommer een Ana Ivanovic was ook in die eerste ronde ’n slagoffer.
Die enigste Suid-Afrikaner in die mans-enkelspel, Kevin Anderson, het boonop in die slag gebly. Die Slowaakse kwalifiseerder Blaz Kavcic het hom in vier stelle uitgeskakel.
Nadal (Spanje) was met 6-0, 5-0 voor teen Marcos Daniel toe die Brasiliaan die handdoek ingegooi het weens ’n beseerde linkerknie.
Die Brit Andy Murray het in soortgelyke toestande deurgedring toe die Slowaak Karol Beck hom weens ’n skouerbesering onttrek het. Murray het met 6-3, 6-1, 4-2 voorgeloop.
In ’n marathonstryd wat eers baie laat klaargemaak het, het die Argentyn David Nalbandian die Aussies se hoop Lleyton Hewitt met 3-6, 6-4, 3-6, 7-6 (7/1), 9-7 geklop.
Die Sweed Robin Soderling (4de gekeur) het Italië se Potito Starace in skoon stelle geklop.
Die Argentyn Juan Martin del Potro het sy terugkeer met ’n sege gevier toe hy Dudi Sela van Israel met 7-6, 6-4, 6-4 ore aangesit het. Hy het feitlik die grootste deel van verlede jaar weens ’n polsgewrigbesering misgeloop.
Nadal, wat hom verlede jaar in die eerste Grand Slam-toernooi van die jaar weens ’n kniebesering teen Murray onttrek het, het Daniel sterkte toegewens.
“Dit is aaklig om uit ’n wedstryd te moet tree met ’n besering en ek wens hom alles van die beste toe,” het Nadal gesê.
Clijsters het Safina, ’n voormalige voorste speler ter wêreld, in net 44 minute gestoomroller.
Safina, wat twee jaar gelede die naaswenner hier was, was ontroosbaar ná hierdie vernedering.
Ivanovic van Serwië het haar vasgeloop teen die Rus Ekaterina Makarova, nr. 49 ter wêreld.
Anderson het die eerste stel teen Kavcic met 6-2 gewen, maar daarna met 4-6, 6-7 (4/7), 6-7 (5/7) vasgeval.
Soderling het Starace met 6-4, 6-2, 6-2 kafgedraf.
Jo-Wilfried Tsonga (13de, Frankryk) het die eerste twee stelle verloor, maar toe teruggeveg om die Duitser Philip Petzschner met 4-6, 2-6, 6-2, 6-3, 6-4 te klop.
Vera Zvonereva (2de) wat probeer om haar derde agtereenvolgende eindstryd in ’n Grand Slam te haal, het Sybille Bammer maklik met 6-2, 6-1 uitgeskakel.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP