Paralimpiese atleet pleeg glo selfmoord
2011-07-05 14:54
Moskou – Die Russiese atleet Maxim Narozhny, wat in 2008 'n silwer medalje by die Paralimpiese Spele in Beijing gewen het, is dood nadat hy vermoedelik van 'n balkon gespring het, het die plaaslike media Dinsdag berig.
Amptenare vermoed dat Narozhny selfmoord gepleeg het omdat sy vrou, wat 'n ooggetuie was, gesê het haar man het enkele sekondes voor hy van die balkon verdwyn het gesê hy is moeg vir sy lewe.
"Maxim Narozhny se dood is 'n skok vir ons almal," het die adjunk-president van Rusland se Paralimpiese komitee, Lev Selezney, aan joernaliste gesê.
"Dit is verskriklik. Niks kon ons voorberei vir so 'n nagmerrie nie."
Die 35-jarige Narozhny, nasionale en wêreldkampioen in gewigstoot vir mans, is Maandagaand laat in Voronezh in sentraal Rusland oorlede.
Volgens berigte het hy moontlik ook aan 'n geestesiekte gely. Narozhny het soms gekla dat sy kunsbeen met hom praat.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA